Verset dreig oor slaggate: Inwoners mobiliseer

Posted in Latest News

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - 2022 is die jaar van slaggate regmaak, want dit is nie net die munisipaliteit se probleem nie, maar ons almal se probleem. “Dit is die jaar dat iemand iets daaraan gaan doen,” vertel Frik Terblanche, stigter van die nuwe burgerlike inisiatief Red -Boloka -Save Kosh, ‘n groep op Facebook. Die groep se naam het vandeesweek verander en was voorheen Kom ons red Klerksdorp.

“Ons wil almal verteenwoordig, want almal sit met dieselfde probleem. Die verval is oral. Misdaad is die grootste probleem in die townships, maar die infrakstruktuur is baie swakker as in Klerksdorp,” sê hy. Frik was voorheen werksaam by die Nelson Mandelabaai munisipaliteit en het verlede jaar, na sy aftrede, na Klerksdorp verhuis.

Hy het mense aangespoor om self in te spring om slaggate reg te maak en die munisipaliteit het nou ook begin gate regmaak en gras sny. Volgens hom is die Facebookgroep ‘n drukgroep en is slaggate net die begin... “Die Here het my Klerksdorp toe gestuur om hier in te gryp. Ek was jare betrokke by die metropolisie en weet hoe werk raadsake. Ek is nuut in Klerksdorp en het my voorgeneem om te kyk waar ek kan help om die stad te probeer regruk.”


Hy beplan om inwoners te mobiliseer en wil binnekort ‘n openbare vergadering hou om vuur te maak onder die munisipaliteit. “Volgende is ‘n petisie aan die munisipale bestuurder en burgemeester.”
Terblanche kan genader word by 072 100 9897 vir meer inligting. Of gaan sluit aan by die groep op Facebook.

Intussen het die Matlosana Munisipaliteit op Saterdag 15 Januarie ‘n persverklaring uitgereik dat die departement van infrastruktuur sy projek vir die instandhouding van paaie voortsit. Die projek sal hoofsaaklik fokus op die herseël van paaie, toemaak van slaggate en plaveisel van kruisings.

Volgens Ntswaki Makgetha, woordvoerder, het die program reeds einde Desember afgeskop.

Verskeie inwoners het ook reeds op eie inisiatief ook slaggate in hul woonbuurte begin vul en spog met hul handewerk op sosiale media.

UA-34805051-1 UA-34805051-1