Skoonhede oes titels

Posted in Community

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die stad spog met pragtige vroue - van alle ouderdomme.

Drie bloedjong meisies van Klerksdorp het die afgelope naweek aan die International Junior Miss SA-kompetisie in Durban deelgeneem en keer triomfantelik terug huis toe.

Die kompetisie is oor ses ouderdomsgroepe beoordeel en het op Saterdag 9 Oktober by die Elangeni Hotel plaasgevind. Die grootste wenner, is die 6-jarige Michele Beets wat almal in haar ouderdomsgroep uitgestof het en as Junior Miss Junior SA gekroon is.

Michaela Chatwind en Mckenzie Lee-Alberts is as eerste prinsesse in hul ouderdomsgroepe gekroon.

Volgens Michelle se pa, Michael, besef sy pragtige dogter nog nie wat sy gewen het nie en is hy ongelooflik trots op haar. “Sy is genooi om as BBP die Mej SA-kompetisie eerskomende naweek in Kaapstad by te woon en ons gaan afvlieg daarheen. Alles word vir haar betaal,” het hy aan Klerksdorp Rekord gesê.

Sy het kontant, klere en nog verskeie ander pryse gewen. Volgens hom was dit nie “jou normale kompetisie” nie en was die beoordelaars almal vorige Mej SA en Mnr SA-wenners.

“Daar word van haar verwag om in elke provinsie ‘n verskyning te maak en Thato Mosehle, naaswenner by Mej SA verlede jaar, wil haar ontmoet.”

Haar ouers staan haar by in haar gemeenskapswerk, wat eintlik die kleinding se passie is. Sy het ook die eerste plek in dié kategorie by die kompetisie gewen.

UA-34805051-1 UA-34805051-1