Weerlig tref motor

Posted in Letters

Melody Pieterse, via e-pos - Ek het vandag (10 Desember) ‘n ervaring gehad wat mens dink net in flieks gebeur.

Ons was onderweg na Stilfontein. Die weer was baie swaar en die blitse het geslaan asof hul die duiwel jaag. Die volgende oomblik slaan daar ‘n massiewe blits voor ons. Die blits het die kar met millimeters gemis maar sy elektriese veld het die kar getref. Daar het ‘n massiewe vlam saam die flits opgeskiet.

Die kar het vanaf die regterbaan na die linkerbaan beweeg en toe van die pad af. Ek het agter die voertuig gestop en na die kar beweeg. ‘n Swart vrou en ‘n kind was in die kar. Sy het probeer om die kar aan die gang te kry maar kon nie. Sy het die venster oopgemaak en ek het vir haar gesê om die sleutels uit te haal. Die weerlig kan die kar weer tref want sy elektroniese veld is beskadig.

Sy het probeer uitklim maar al die deure was gesluit. Die venster wou nie verder oop of toe nie. Geen ander venster kon oop nie. Die kar se elektronika is deur die elektriese veld uitgebrand. Jy kon die brand ruik. Ek was net bang die kar slaan aan die brand. Gelukkig het hy nie. Ek het haar my besonderhede gegee as getuie, sou die versekering dit versoek. Die vrou sê vir my dat die stuurwiel haar geshock het. Gelukkig het sy geen beserings opgedoen nie.

Later die middag kry ek ‘n oproep. Dit was die vrou wat net nie genoeg dankie kon sê dat ek gestop het en haar te hulp gesnel het nie. Sy sê sy het nooit gedink ‘n wit vrou sou stop in daai weer en haar help nie. Sy en haar man gaan my weer kontak dan gaan hul my ‘n groot boks sjokolade gee om hul dank te toon, alhoewel dit nie die opregte dankbaarheid sal kan wys nie. Dit het nou regtig my dag gemaak.

UA-34805051-1 UA-34805051-1