Bose kringloop moet gestuit word
Leser, via e-pos - Die laaste paar weke is die koerant se brieweblaaie weer vol met klagtes oor ’n plaaslike kontrakteur wat met klomp beloftes mense se arm draai om vir hom geld te gee in ruil vir “dienste gelewer’’.
Laat my toe om my stuiwer in die armbeurs te gooi. Dit is nie die eerste keer dat hierdie selfde manne in Klerksdorp Rekord as bedrieërs en swendelaars uitgekryt word nie. Dit gaan al vir jare aan. Tog gaan dit my verstand te bowe dat hierdie manne nog toegelaat word om dit te doen. Hoe kan die polisie net ’n blinde oog draai? Lees hulle dan nie die koerant nie?
En wat help dit julle skel die redakteur uit oor sy hulle advertensies plaas? Watter gronde het sy om hul advertensies te weier? ’n Spul briefskrywers wat dom genoeg was om vir hierdie kontrakteurs geld te gee voordat enige werk gelewer is. En dan koerant toe hardloop om daar te huil oor die advertensie daar geplaas is.
Sou Klerksdorp Rekord wel weier om hul advertensies voortaan te plaas, wat dink julle sal dan gebeur? Gaan hierdie ouens ophou skelm wees? Gaan hulle minder mense bedrieg? Of gaan hulle maar net ’n ander plek soek om hul advertensies te plaas - dalk ’n kennisgewingbord by jou plaaslike supermark of op die internet? Wie moet dan die blaam dra as jy vir hul slim storietjies val?
Ek stem dit is tyd dat hierdie manne se tjank vir eens en vir altyd afgetrap word, maar hoekom die blaam verskuif na die koerant of die redakteur?
Doen self iets. Weier om nee vir ’n antwoord te vat by die SAPD. Gaan sien ’n staatsaanklaer. Win regsadvies in. Span saam met nog ander klaers en kry ’n interdik teen hierdie manne. Dit gaan jou niks in die sak bring om briefies te skryf nie, more oormore is hierdie koerantpapier toiletpapier en doen die bende klaar weer iemand anders in - dis ’n bose kringloop.