Klerksdorp-vroue oorheers kampioenskap

Posted in Sport

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die Klerksdorp rolbalklub se vroue enkelspelspelers het die Noordweskampioenskap wat Saterdag 9 en Sondag 10 Junie op die bane van die klub gespeel is, heeltemal oorheers.

Die eindstryd was tussen René de Jager en Anina Neethling met De Jager wat na aanvanklike strawwe teenstand van Neethling, die goud maklik gewen het. Jackie Scheepers (halfeind) en Rhonda Kallis (kwarteind) was ook tussen die top spelers en is deur Neethling uitgeskakel.

De Jager se slagoffers was Lazuya Serfontein van Parys, Christine Marais van La Farge en Gladys Yelland ook van La Farge.

In die mans enkelspel het Klerksdorp se Pikkie Loots en Tinus Crous in die half-eind verloor: Loots teen die kampioen, Rudi Jacobs van Parys en Crous teen die silwermedaljewenner, Pierre Breitenbach van Potchefstroom.

Die Kampioen van Kampioene en die Meesters lê nou voor.