André van Dyk nou ’n gholf pro

Posted in Sport

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - André van Dyk is nou ‘n professionele gholfspeler in die Sonskyntoer, die Suid-Afrikaanse professionele gholftoer. Klerksdorp Rekord het op Dinsdag 10 Mei telefonies met hom in Kaapstad gepraat waar hy voorberei vir sy eerste professionele toernooi wat op Vrydag 13 Mei begin.

“Ek is positief en het ‘n goeie ondersteuningstelsel. Ek wil ‘n suskes hiervan maak. Ek moet eers kwalifiseer vir die toernooi en hy begin Vrydag op die Arabellabaan by Hermanus,”sê André (21). Sy oupa Dries het hom van kleins af laat gholf speel en in hom geglo. André was maar sewe jaar oud toe sy oupa sy talent raakgesien het. “My oupa is in 2019 oorlede. Hy was altyd daar. Hy het my ondersteun. Dit is jammer dat hy nie nou kan sien waaraan ons so hard gewerk het nie.”

Leon Bevan, voorsitter van NW amateur gholf vir jare, ken hom van kleins af en het sy groei waargeneem. “Hy het die drie belangrike goed wat nodig is - ‘n oop kop, talent en kan hard werk. Dit kan hy doen. Ek onthou toe hy die klubkampioenskap van Orkney gholfklub gewen het toe hy maar 12 jaar oud was. Dit was wonderbaarlik. Dit gebeur nie sommer nie. Almal was stomgeslaan. Dié seuntjie wat almal wen. Ek onthou ook toe hy as junior in die nasionale gholfkampioenskap vir skole gespeel het. Hy het teen baie ouer spelers gespeel en ons was bang hy is nog te jonk.

“Hy was uitstekend en die beste van NW,“ vertel Leon.

Volgens Leon is daar ‘n sêding “if you’re good enough, you’re old enough”. Dit is van toepassing op André. Hy sal hom graag in groot toernooie wil sien, waar hy onder die bestes eindig en so geld uit die sport kan maak.

“Daar is egter baie visse in die see. Die druk is erg. Veral as jy weet die hou wat jy pas gemis het, is R10 000 werd. Daardie druk moet alle spelers kan hanteer,” sê Leon.
Klerksdorp Rekord sal sy vordering dophou.

UA-34805051-1 UA-34805051-1