Kerk trek “laer”

Posted in Latest News

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Dit is vroeg volgende maand tyd vir die Hervormde Kerk Oudorp se “Van Toeka tot Nou’’ basaar.

Dié gemeente is gestig in 1866 en is die oudste kerk en gemeente in Klerksdorp. Die terrein waar die kerkgebou staan was vroeër jare die uitspanplek van die ossewaens wat transport gery het van die Kaap af. Selfs die poskoets het hier gestop vir vars perde en die mense van Oudorp het dan aan dié mense vars groente en vleis verskaf.

Die oorspronklike kerkgebou staan steeds en word nou deur die gemeente as kerksaal gebruik.

Om hierdie ryke geskiedenis te vier, hou die gemeente jaarliks ‘n eg tradisionele kerkbasaar. Dié basaar op 2 November beloof om weereens ‘n heerlike viering van tradisie, geskiedenis, kultuur en familie te wees.

Piet Breytenbach bring sy pragtige ou waens en kom leer die gemeenskap van die Voortrekkers se daaglikse bedrywig-hede en gesinstyd rondom die kampvuur.

Om saam te val met die era van helde, sal die hedendaagse twee helde van Henneman - Evert du Preez en Mokoni Chaka, hul storie kom deel oor die tragiese dag in Januarie 2018, toe hulle gehelp het om kinders en vrouens van die Shosoloza Meyl te red, toe dié ontspoor is na ‘n botsing met ‘n trok.

Laerskool Goudkop se boere-orkes en koor sal gaste trakteer met hul boeremusiek en sang. Heerlike tradisionele basaarkos en -poedings is op die spyskaart, sowel as kwaliteit rou vleis teen bekostigbare pryse. Speletjies, springkastele, stalletjies en hope pret sal sorg dat oud en jonk die dag geniet.

Daar is nog plek vir stalletjies en uitstallers kan hul staanplek bespreek by Louis Koen by 083 456 0807.

UA-34820896-1