150 jaar fees om PU vir CHO te vier

Posted in Latest News

Klerksdorp Midweek, Potchefstroom - Alhoewel die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys nie meer bestaan nie, het alumni van die instelling besluit om steeds die 150ste bestaan te vier.

Die bestuur van die NWU (wat onder andere uit die PU vir CHO gegroei het), het besluit om nie ’n 150-bestaansjaarfees te reël of regstreeks by die fees betrokke te wees nie.

Daarom het ’n aantal oudstudente van die Universiteit besluit om as alumni ’n eie feesgeleentheid te reël om die ryke geskiedenis en prestasies van die afgelope 150 jaar te herdenk.

Die fees vind op 30 November in Potchefstroom plaas.

Ou Pukke, jonge Pukke, NWU-Pukke, kortom alle Oud-Pukke, word uitgenooi om die fees by te woon en lekker saam te kuier.

Die dag se program sluit optredes in deur bekende Puk-kunstenaars soos Johan van Rensburg (van Noot vir Noot-faam), Danie Niehaus, Anna Davel en “die Bourbons Broers” asook Ghapi en ander kunstenaars. Daar sal ook sing-songs en toesprake deur die President van Tarentaal, ’n humoristiese ou Puk-tradisie, wees.

Naas die president van Tarentaal sluit die oggendprogram ook kort vyf minute toesprake van enkele oud-kanseliers en vise-rektore in. Daar is ook ’n aansit-ete vir dié wat belangstel.

Die middag is meer informeel met kosstalletjies, kunstenaars, ’n kontantkroeg en baie kuiergeleenthede.

Omdat plek beperk is, moet oud-studente betyds kaartjies vir die fees koop om by die ingang toegelaat te word en teleurstelling te voorkom.

Volledige inligting van die dag se program en die koste van kaartjies is op ’n spesiale webblad (https://puk150.co.za/) beskikbaar.

Die e-pos adres: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. kan ook gekontak word vir verdere inligting.

Prof Callie Coetzee, die studenteraadsvoorsitter in 1969, toe die PUK 100 jaar oud was, is die voorsitter van die reëlingskomitee van die PUK150 Fees.

Ander bekendes op die reëlingskomitee is dr Theuns Eloff, voormalige vise-kanselier, dr Ben de Klerk, Tom Larney asook voormalige Studenteraadsvoorsitters soos dr Pieter Mulder, Adéle Croucamp en De Wet Coetzee.

Omdat hierdie 150-bestaansjaarfees onafhanklik deur oud-Pukke gereël word, is enige donasies en borgskappe welkom.

Vir meer inligting en medianavrae, skakel prof Callie Coetzee by 082 337 7951.

UA-34820896-1