Twaalf ure van Afrikaanse musiek

Posted in Latest News

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Die grootste Afrikaanse musiekvertoning vind op 30 en 31 Oktober by Sun City plaas.

Ná die ongelooflike sukses van die eerste Afrikaans Gaan Global-stroomkonsert wat vroeg in September aangebied is, word die tweede een oor ’n naweek in Sun City aangebied met organiseerders wat belowe dat dié konserte nóg verdere verwagtinge sal oorskry. Dié keer word aktiwiteite oor die hele naweek by Sun City aangebied en musiekliefhebbers kan ook deel in die aksie met ’n beperkte aantal kaartjies wat beskikbaar is.

Die naweek skop amptelik af met die gewilde rugby kletsprogram, Toks en Tjops, wat regstreeks uitgesaai sal word. Na afloop van dié uitsending vind die eerste musiekgenot vanaf 21:00 plaas met Ricus Nel, Jo Black, Refentse, Brendan Peyper, Appel, Ray Dylan en Tashé in aksie tydens die Hardekole-konsert.

Die amptelike Afrikaans Gaan Global-konsert op 31 Oktober spog met 27 kunstenaars wat die partytjie aan die gang gaan hou – weer vir 12 ure lank. Dié kunstenaars is Jo Black, Snotkop, Refentse, Spoegwolf, Adam Tas, Juanita du Plessis, Pieter Koen, Wicus van der Merwe, Demi Lee Moore, Joe F, Ricus Nel, Brendan Peyper, Nicholis Louw, Nadine, Elizma Theron, Tasché Burger, Appel, Elvis Blue, Kurt Darren, Die Campbells, Synth Peter, Jay du Plessis, Karen Zoid, Early B en Ray Dylan. Vanes-Marie du Toit sal saam met Pieter Koen en Wicus Van der Merwe die aanbieders wees.

Die publiek het tyd tot 23 Oktober om ’n kunstenaar te nomineer en dié 27ste kunstenaar wat saam met die room van die Afrikaanse musiekbedryf sal optree, word op 26 Oktober aangekondig.

“Die hele Valley of the Waves is daardie naweek eksklusief bespreek vir Afrikaans Gaan Global en dus sal slegs kaartjiehouers vir dié konsert toegang verkry. Die publiek kan steeds weer in die gemak van hul eie huis saam kuier óf bietjie in die son kom baljaar by Sun City,” vertel Kurt Darren.

Besoek iTickets vir besprekings.

UA-34820896-1