Fees met skrywers en boeke

Posted in Latest News

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - ‘n Skrywersfees is op hande wat enige boekwurm se tone sal laat omkrul van lekkerkry. Stefaans Coetzee, self ‘n skrywer en stasiebestuurder by Life FM, reël die fees in Klerksdorp en bekende skrywers soos Dana Snyman, Hykie Berg, Susan Coetzer en Johan Jack Smith kom skouers skuur met talentvolle plaaslike skrywers.

“Ons het soveel bekroonde skrywers in ons midde, dat ons nie hulle kon oorsien nie. Dis lekker om te weet die talent op die platteland hoef nie ‘n tree terug te staan vir gevestigde skrywers nie,’’ sê hy.

Hy praat natuurlik van Cecilia Steyn, Louis van der Merwe, Rudi Swanepoel en Christa van Rooyen wat in die Kosh-gebied woon en van hier al ‘n hele paar boeke die lig laat sien het.

Die skrywersfees gaan heerlik informeel wees belowe Stefaans. Dit word op 24 Oktober by Shack to Sanctuary in Ianstreet aangebied en sal bekend staan as die Sanctuary Boekfees. “Ons wil die mens agter die boek ontmoet en na sy gesprek sommer saam met hom op die gras onder ‘n boom kuier met ‘n koffie. Ons wil graag hê julle moet saam met ons kom kuier. Jy hoef nie hier iets te koop om te eet nie, bring sommer jou piekniekmandjie en kombers,’’ gesels hy.

Shack to Sanctuary is ‘n restaurant en geskenkwinkel wat ligte etes bedien en die Christelike radiostasie Life FM saai ook van daar af uit. ‘n Kosstalletjie wat deur die liefdadigheidsprojek Jak 1:27 bedryf word sal ook verversings verkoop.

‘n Program met die skrywers en tye waar hulle in gesprek sal wees is op Life FM se Facebook-bladsy waar daar ook meer inligting oor die gebeure van die dag gekry kan word. Boeke sal natuurlik ook te koop wees.

Of skakel Stefaans by 063 133 5759 of Ferdie Swanepoel by 083 232 9553 vir meer inligting.

UA-34820896-1