Voortrekkers vier negentig jaar

Posted in Latest News

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Die Voortrekkers vier vanjaar hulle 90ste bestaansjaar. Om dié groot mylpaal te vier, word ’n baie spesiale onthouboek, Die Voortrekkers Hou Koers, uitgereik.

Met behulp van ’n eerste omvattende bronnestudie uit hoofbestuursnotules, jaarblaaie, Voortrekkerliteratuur, herinneringe van huidige en oud-Voortrekkers en bykans 500 historiese foto’s vertel Die Voortrekkers Hou Koers ’n dinamiese kultuurstorie.

Dié kultuurstorie vertel die verhaal van ’n droom wat meer as ’n eeu gelede in die hart van ’n Karooseun begin het en oor dekades deur tallose vrywilligers uitgebou is, sodat daar vandag ’n Afrikaanse jeugvereniging bestaan wat die toets van tyd deurstaan het.

Vandag is Die Voortrekkers ’n dinamiese en moderne kultuurorganisasie, relevant vir sy lede, maar steeds gewortel in waardes wat vasstaan sedert Die Voortrekkers se stigting in 1931.

Om dié groot mylpaal te vier, is ‘n spesiale feeslied, DIE SPORE WAT ONS LOS, pas bekendgestel. Die lied word gesing deur die baie gewilde en talentvolle, Adam Tas.

Die lied is deur Johan Vorster, bekende liedjieskrywer, sanger en vervaardiger en sy mede-vennoot, Jacomien de Villiers, van Inhoud Huis Musiek, geskryf. 

Dr Danie Langner, Hoofleier van Die Voortrekkers sê die Voortrekkerspore is in die kontoere van die Drakensberg gekerf, eers in 1837 deur die eerste Voortrekkers en daarna in 1968 en 2016 deur moderne Voortrekkers.  “Die lied is toekomsgerig, want ons storie word steeds in Afrika uitgekerf en die toekoms wink vir ons. Die lied bevestig die Voortrekkers se geloofsgrondslag, maar ook die Voortrekkerkarakter soos integriteit (’n Voortrekker se woord is sy eer), dade van durf en diensbaarheid. Dit is die spore wat ons wil los. Die lied roep Voortrekkers op om steeds die Voortrekkerfakkel veilig na more te dra,” voeg hy by.

Die historiese koffietafelboek kos R350 en kan bestel word by www.voortrekkers.co.za

UA-34820896-1