Near Dark

Written by Midweek. Posted in Salla se boekrak

deur Brad Thor (Spanningsriller)
Stefaans Coetzee, skrywer - Na 19 boeke in ’n reeks dink mens maklik jy het al alles gelees wat Brad Thor na jou kant toe kan gooi (veral na Spymaster se cliffhanger einde), maar Scot Harvath pronk nie verniet gereeld op die #1 New York Times se blitsverkoperslys nie.

Die jong Navy SEAL operateur wat ’n US Secret Service agent geword het, stap as ’n gebroke man uit Backlash (boek 18) nadat sy vrou, mentor en boesemvriend vermoor is. In Near Dark is hy nie meer die jagter wat ons twee dekades terug in The Lions of Lucerne leer ken het nie, maar ’n gewonde lone wolf wat alle bande met die Carlton Group afgesny het. Dit lyk ook of hy sy lewe as ’n chroniese alkoholis gaan afsluit totdat elke liewe sluipmoordenaar reg oor die wêreld sy bloed soek.

Nie die Carlton Group of CIA weet wie het op die donker web ’n $100 -miljoen kontrak op sy lewe uitgeneem nie. Terwyl hy die sluipmoordenaars probeer ontduik, probeer hy vasstel wie die mistieke aartsvyand is wat hom wil dood hê en ek blaai na die eerste hoofstuk van Black Ice agter in die boek net om seker te maak hy ry aan die einde van die boek soos Louis L’Amour se cowboys op ’n perd weg.

Ou bekende soos Nicholas “die Trol” en sy honde, Argos en Draco, maak saam met ’n paar ander bekende gesigte ’n draai terwyl die Noorweegse intelligensie operateur Sølvi Kolstad nie net Harvath se hart steel nie, maar ook ons sin. In Thor se vroeë boeke het resensie skrywers gereeld geskryf “as good as Vince Flynn of...”, maar deesdae word opkomende skrywers met Brad Thor vergelyk en as jy wonder hoekom - lees Near Dark.