Roxy

Written by Midweek. Posted in Salla se boekrak

deur Kristel Loots - Uitgegee deur Lapa Uitgewers - Resensie: Maryke van Rensburg

Daar is iets in `n naam. Dis asof iemand se persoonlikheid, maniertjies en straks, hul toekoms daarin opgesluit word. Roxy - wanneer jy die naam in jou mond rol en dan uitspreek, word jy dadelik weg gevoer na `n besige lewe van `n vrou wat `n amper dubbele lewe lei - of eerder - haar ware en meer sensitiewe kant beskerm met `n harde dop van warm, maar niksseggende romanses en les bes `n traak-my-nie-agtige houding.

Vrouens is aardig met ouderdom en Roxy is glad nie anders nie. Wanneer sy 31 word, neem sy `n besluit. Vir baie van ons, dalk klein, maar vir haar, `n besluit wat haar lewe ingrypend verander.

Sy ontdek `n baie sagte kant in haar wat sy nooit gedink het bestaan nie. Dit vul haar te gelyke tyd met opwinding en vrees. Die vrees is egter nie so groot dat dit haar keer om klein happies daarvan te neem nie.

Deur dit boek word haar onsekerhede uitgelig en mens kan verstaan hoekom sy op sekere maniere optree. Soms skreeusnaaks, ander kere snak jy na jou asem.

Kristel Loots is meesterlik in haar beskrywings. Die leser kan weliswaar vereensel-wig met elke karakter wat baie geloofwaardig beskryf word. Reeds vanaf die eerste bladsy kan jy die spanning in die verhaal optel en dit word netjies deur die boek ingeweef. Die vrae, intriges en dialoog hou jou aandag en jy kan nie wag om die volgende bladsy te lees nie.

Roxy se lewe is nie sonder kinkels en kabels nie. Een groot kinkel het reeds ontstaan van sy `n klein dogtertjie was en vorm as’t ware die fondasie waarop al haar besluite - goed of sleg - gebaseer word. `n Misterieuse vrou maak haar verskyning en dit wat Roxy haar lewe lank vermoed het, word bevestig.

Sy word amper onwillig meegesleur in hierdie storie wat omvou en uit pure desperaatheid oor familie se vrae, afguns en aanpor tot wat hulle dink die regte ding is om te doen, maak sy `n groot fout. Maar geen roman is sy sout werd sonder die nimlike prins op die wit perd wat uiteindelik red wat te redde is nie.

Die enigste kritiek wat ek werklik kan lewer is dat die onderliggende, maar baie sterk tema - die problematiese en gespanne verhouding tussen haar en haar ma nie bevredigend ontlont word nie. Alhoewel dié situasie wel opgelos word, word daar nie veel aandag aan gegee nie en die leser word gelos met `n gevoel van - hoe is die jarelange brandpunt dan aangespreek en tot `n ‘ek vergewe jou’ punt gedryf?

‘Roxy’ is `n heerlike boek om te lees. Woorde word kwistig aangewend soos `n skilder met verf. `n Mens kan die tonele in jou kop sien afspeel, die dialoog hoor en die nuanses voel. Dit is die ideale boek om te lees op `n koue wintersmiddag terwyl die vuur in die kaggel knetter en jou lippe taai raak van die marshmallow koffie.

UA-34820896-1