Oor en Weer - Trisa Hugo en Analize Viljoen

Written by Midweek. Posted in Salla se boekrak

Maryke van Rensburg, kunstenaar - Ek is `n mens wat hou van woorde. Woorde wat jy jouself in kan verkneukel en voeg daarby `n storie wat grense verskuif... dan hét jy my... hook, line and sinker.

Toe ek ‘Oor en weer’, uit die pen van Trisa Hugo en Analize Viljoen, in my hande vashou, het ek net geweet, die boek gaan vir my omklits. Weens omstandighede, kon ek dit nie dadelik lees nie, maar die afgelope naweek het ek dit my missie gemaak.

Van die eerste bladsy af, was ek getransporteer na Manda en Billie se wêreld. Ek was dadelik nuuskierig om te weet wat gaan gebeur, veral toe Billie met `n moerse lawaai die boek binnetree. Ek het geweet, hier gaan dinge gebeur. Die boek het op geen vlak teleurgestel nie. Woorde is keurig bymekaargesit om `n ritme dwarsdeur die boek te handhaaf. Elke ‘plot’ is goed nagevors en vertel sonder om `n lesing te gee of te raak aan die ‘opvoeding van `n nasie’-brandpunt nie.

Die karakters is mense-mense. Hulle is normaal (soos ek en jy) en mens kan dadelik met hulle vereenselwig. Hulle hartseer raak joune en hulle geluk laat jou uitbundig lag.

Vroue se vriendskappe is net besonders, en dit kom pragtig in hierdie boek tevoorskyn. Die onsekerheid oor `n nuwe vriendskapsband en dan die groei na iets wat heg raak en lewens wat noodgedwonge verstrengel raak - op `n mooi en empatiese manier.

Alhoewel Billie `n ekstroverte mens is, wat met `n Irakese vrou `n verhouding het, word sy nie onder `n sosiaal afgedwonge etiket getipeer nie. Sy word aan jou voorgestel as `n sterk, onafhanklike vrou wat, in tye van intense hartseer, daarmee deel en dan aangaan met haar lewe.

Manda is egter haar teenoorgestelde. Ook sterk, maar sukkel om met haar sielsduiwels te deel. Sy wroeg meer, oordink meer en oorwin later `n verslawing en maak vrede met `n donker gebeurtenis in haar lewe.

As jy hou van iets wat jou ‘comfort zone’ ‘n bietjie wikkel en omdolwe, is die boek beslis vir jou.

Dis nie jou gewone run-of-the-mill romanse nie. Nee, dit is ‘n verhaal met substansie, amper soos perfek gedroogde biltong met ‘n dun lagie vet en net die regte hoeveelheid speserye. Dit is ‘n ‘mmmm’ en ‘aaaah’ boek wat jy sukkel om neer te sit terwyl jy gou nog ‘n koffietjie maak. Ek ‘like’ die boek en ek het `n voëltjie hoor fluit dat die twee weer saamkonkel vir `n nuwe boek. Ek kan nie wag nie, want as ‘Oor en weer’ `n aanduiding is van wat hulle saam kan bereik, gaan die volgende een beslis `n boek wees wat ek gaan verslind.

Into the Fire - Gregg Hurwitz

Written by Midweek. Posted in Salla se boekrak

Stefaans Coetzee, skrywer - In 2016 stel Gregg Hurwitz ons bekend aan Orphan X. Die boek is uit alle oorde geloof, Lee Child, Harlan Coben, Robert Crais en Jonathan Kellerman. Op die voorblad waarborg David Baldacci lesers: “Read this book. You will thank me later.”

Dit is geen leë bemarkingstegniek nie. Inteendeel, Orphan X staan in my boekrak naas groot legendes soos The day of the Jackal en The Bourne Identity. En sedertdien is ek ‘n bewonderaar van Evan Smoak, die voormalige regering sluipmoordenaar wat nou as die Nowhere Man pro bono kriminele teregstel.

Die Orphan X-reeks waarborg konstante aksie. In Into the Fire (die vyfde boek in die reeks) red David “The Terror” Terzian die forensiese rekenmeester, Grant Merriweather, van ‘n motorongeluk, net om hom en die dokters minute later dood te skiet.

Maar Grant het voor sy dood voorsorgmaatreëls getref ingeval iets met hom gebeur. Hy los ‘n koevert -met ‘n geheuestokkie in - vir sy nefie, Max, agter. Max moet dit aan die media oorhandig indien daar iets met hom gebeur. Skielik word Max gejag en sy enigste uitkoms is om Evan se geheime 1-855-2-NOWHERE nommer te skakel. Alhoewel Evan wil uittree, antwoord hy die telefoon met sy gebruiklike “Do you need my help?”

Ek hou daarvan dat die bad boys in elke nuwe boek opgradeer na iemand erger. Dalk ontmoet die Nowhere Man eendag sy gelyke. En dat die back-story Evan Smoak met elke boek meer ingekleur word. Trou aan die reeks, is daar gereeld ‘n kisduiweltjie wat onverwags uitspring. Die reeks se gunsteling karakters kuier ook lekker saam: Mia Hall (Evan se DA buurvrou), Joey Morales (die sestienjarige hacker), Melinda Truong en Tommy.

Ek was hoogs teleurgestel toe die film nooit realiseer het nie en alhoewel ek steeds op ‘n Orphan X televisiereeks wag, is ek aan die einde van bladsy 449 verheug om te sien dat Prodigal Son bestem is om in 2021 te verskyn. Met apologie aan David Baldacci: Koop die boek. En bedank my later.

The Terminal List - Jack Carr

Written by Midweek. Posted in Salla se boekrak

Stefaans Coetzee, skrywer - As jy ’n boek optel en sien dat die skrywer ’n voormalige bevelvoerder in die Amerikaanse spesiale magte was, dan weet jy die boek is deurdrenk van ‘inside-information’ wat geen fiksie-skrywer kan uitdink nie.

Die detail in Jack Carr se debuut spanningsboek, The Terminal List, herinner sterk aan Andy McNab se vroeë werke, en dit is weens dié detail dat die Departement van Verdediging eers goedkeuring moes gee voordat die boek gepubliseer kon word.

Carr se hoofkarakter, James Reece, was nes hy ’n Navy SEAL bevelvoerder.

Tydens sy laaste operasie in die Khost-provinsie in Afghanistan word Reece se hele eenheid uitgewis, so ook die reddingspan, met Reece as die enigste oorlewende. Met sy terugkeer in Colorado, California, word sy swanger vrou, Lauren, en babadogtertjie, Lucy, in hul huis brutaal vermoor.

Vir iemand met Reece se opleiding, spel dit net een ding uit - wraak. Om petrol op die vuur te gooi ontdek hy dat hy ‘n breingewas opgedoen het wat teruggespoor kan word na die massamoord in Afghanistan. Dit hits Reece aan om diegene wat tot by die top van die Amerikaanse regering strek te identifiseer, en uit te haal. Die regering het baie tyd en geld bestee om hom in ‘n moordmasjien te omskep, nou jag hy hulle.

Alhoewel hierdie boek nooit enige literêre pryse sal inpalm nie, sluit Carr hom met hierdie aksie-belaaide debuut by die groot name in die politieke spannings genre soos Brad Thor, Vince Flynn en Brad Taylor aan.

En om Mark Owen, die New York Times blitsverkoper van No Easy Day, aan te haal: “Trust me, you won’t be able to put this one down!”

UA-34820896-1