Leer sportskiet

Written by Midweek. Posted in Sport

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Die Klerksdorp Luggeweerklub nooi die gemeenskap uit om deel te hê aan hierdie unieke sport wat ontwikkeling in selfdissipline, fokus en konsentrasie bevorder.

Die klub en skietbaan is geleë op die perseel van Hoërskool Wesvalia en enige persoon vanaf die ouderdom van 10 kan aan hierdie sport deelneem.

Luggeweerskiet word ook by meeste skole erken as ‘n skoolsport en alle leerlinge van die Kosh-gebied is welkom.

“Wat die sport so aantreklik maak is dat die skut bepaal wat jy gaan uitkry en dit hang alles af van wat jy natuurlik insit. Daar heers ‘n ongelooflike gemaklike, tog kompeterende atmosfeer op die baan en die skuts ondersteun mekaar ongelooflik baie,” sê die voorsitter en afrigter, Hanro Pretorius.

Klerksdorp Luggeweerklub is ‘n ope klub wat geaffilieerd is met SAARA (South African Air Rifle Association). Daar is 3 afdelings waarin geskiet word: (1) Veergewere; (2) Gasgewere (Sporter); en (3) Olimpiese afdeling (Presisie). Kompetisies vind regdeur die jaar plaas in die vorm van provinsiale ligas en nasionale opes.

Daar is baie moontlikhede wat hierdie sportsoort bied en baie prestasies wat bereik kan word. Provinsiale klere, SAARA Federasie klere en dan die hoogste erkenning, Protea klere kan verwerf word in hierdie sport. Luggeweer is ‘n erkende Olimpiese sport en spanne word elke jaar na internasionale byeenkomste gestuur wat reg deur die wêreld plaasvind. Persone wat liggaamlik dalk nie die vermoë het om aan ‘n ander sport te kan deelneem nie, kan gerus skiet probeer. Die kostes is minimaal en sluit in dat jy by die regte affiliasies betrokke kan raak en geregistreer word by SAARA.

Die klub se oefentye is Maandae, Dins-dae en Donderdae, 17:00-19:00 by Hoërskool Wesvalia en almal is welkom om Pretorius by 079 892 7502 of Cisca de Beer, bemarker, by 082 979 1719 te ska-kel vir meer inligting.