Vat hande en ondersteun dié plaaslike besighede

Written by liesl. Posted in Jongste Nuus

NOORDWESTER – LICHTENBURG – Ondersteun plaaslike kleiner besighede! Adverteerders van kleiner ondernemings wat die behoefte het aan plaaslike ondersteuning kan op ‘n bladsy in die Noordwester ‘n spasie van 10 cm x 6 cm koop vir R200, plus btw. Die advertensies is nie vir groot ondernemings nie, maar meestal vir eenmansake wat op hul beskeie manier ook ‘n bydrae lewer aan ons plaaslike ekonomie.

Gewoonlik is hierdie ondernemings eerste in die ry wanneer dit by borgskappe vir skole en sportspanne kom, maar hulle kan nie meeding met die groot handelsname wanneer dit kom by advertensiespasie koop nie. Ons verstaan dit - dit is daarom dat ons die #koopplaaslik-veldtog die week afskop met spotgoedkoop advertensies aan eenmanssake/tuisondernemings ens. Ons wil ons lesers aanmoedig om hul geld plaaslik te spandeer. Wanneer jy plaaslik koop, bly meer van daardie geld in plaaslike omloop as wanneer dit by groot handelswinkels spandeer word. Dit kan weer lei tot beter lone, meer werksgeleenthede en ‘n gesonder plaaslike ekonomie. Indien jy al ooit met ‘n groot korporasie besigheid gedoen het, weet jy hoe moeilik dit kan wees om hulp of bystand te kry. ‘n Plaaslike besigheid is gewoonlik makliker om te nader en die kanse is groter dat jy van aangesig tot aangesig met iemand kan praat wanneer jy ‘n vraag of versoek het. ‘n Mark wat bestaan uit ‘n klomp kleiner verskaffers is beter vir die verbruiker wanneer dit kom by lae pryse en innovering. Groot korporasies word minder beïnvloed deur plaaslike kompetisie en is meer gefokus op die winste en dividende vir hulle aandeelhouers. Indien jy ‘n eienaar van een van die vele plaaslike kleinondernemings in Lichtenburg, of naburige dorpe is, praat met ons om jou te help om bekostighare blootstelling in die Noordwester te kry. Skakel ons kantoor by 018-6326038 of praat direk met ons bemarkers, Lydia – 072 807 6913 of Jackie – 084 414 3985.