Vyf verhoor-afwagtendes ontsnap uit polisieselle

Written by liesl. Posted in Jongste Nuus

NOORDWESTER – LICHTENBURG – Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die SAPD in Noordwes het bevestig dat die polisie in Lichtenburg geen steen onaangeroer laat nadat vyf verhoorafwagtende gevangenis op 12 Januarie 2022 uit die aanhoudingselle op Lichtenburg ontsnap het nie.

Die vyf aangehoudendes Sifiso Vilakazi (42), Petrus Mosweu (25), Orapeleng Matlhape (25), Philani Mathonsi (36) en Armando Mucumbi (35) is aangehou op klagtes van onwettige besit van vuurwapens, etlike klagtes van roof sowel as verkragting en moord. Die polisie kon daarin slaag om twee van die verdagtes, Petrus Mosweu en Orapeleng Matlhape kort daarna weer in hegtenis te neem.
‘n Dringende soektog is van stapel gestuur om die ander drie so spoedig moontlik op te spoor en die omstandighede rondom die onsnapping word ook ondersoek. Enige persoon wat oor inligting beskik oor enige van die persone wat kan lei tot hul in hegtenisname, kan met Luit. Kol. Makgwana Mokotedi skakel by 0824161638.