1000km op motorfiets vir siek kinders

Written by liesl. Posted in Jongste Nuus

NOORDWESTER – LICHTENBURG – Vir die derde agtereenvolgende jaar gaan die “Ride for a Child”-projek op 13 Februarie 2022 afskop wanneer afgetrede dr. André Hattingh, die hoof uitvoerende beampte en stigter van Pediatric Care Africa, 7000km om Suid-Afriks op sy Harley Davidson Roadking gaan aandurf om fondse te genereer vir operasies vir kinders wat dit nie kan bekostig nie.

Met die #HELPMYOP-veldtog wil hy bewustheid verhoog van kinders wat operasies en mediese behandeling dringend benodig en dit nie kan bekostig nie. Dr. André het verlede jaar ook deur Lichtenburg gereis op ‘n trekker tydens sy veldtog en plaaslike motorfietsryers het hom op die pad verwelkom. Hy begin sy reis die jaar vanaf Witrivier en sal die mees noordelike, suidelike, oostelike en westelike dele van Suid-Afrika insluit. Hy sal op 5 Maart 2022 sy reis weer in Witrivier afsluit.
Dr. André, wat ook ‘n oupa van vyf kleinkinders is, daag enige persoon met ‘n motorfiets, asook alle ouers en grootouers uit om saam te ry vir ‘n gedeelte van die roete naaste aan jou dorp as geborgde ryers, waar hulle vir R1 per km deur ‘n vriend, maatskay of hulself geborg word om hierdie liefdadigheidsrit te bevoordeel. Borge wat wil betrokke raak kan meer inligting op die webwerf www.peiatriccareafrica.org kry.
Dr. André sal op 16 Februarie 2022 in Lichtenburg aandoen en u ondersteuning vir kinders wat nie vir hulself kan opstaan nie, word gevra.