Dringende oudit van polisie se vuurwapens gevra

Written by liesl. Posted in Jongste Nuus

NOORDWESTER - LICHTENBURG– Die drukgroep Action Society sê die vraag moet gevra word of die polisie besig is om die grootste verskaffer van onwettige vuurwapens aan misdadigers te word en vra dat ʼn nasionale oudit van die polisie se wapens gedoen moet word.

“Wetende of nie is dit ʼn absolute skande dat Suid-Afrika op die punt is waar die polisie self voorloop met die bewapening van die land se misdadigers,” sê Ian Cameron, ʼn woordvoerder van Action Society. Die organisasie se versoek vir ʼn oudit kom ná onthullings oor ʼn styging in die getal vuurwapens wat by die Norwood-polisiestasie gesteel is. Die syfer het van 158 tot 175 gestyg en kan selfs verder styg terwyl ʼn ondersoek na die diefstalle voortduur. “Die polisie het tans geen manier om vas te stel hoeveel wapens hy nog besit en beheer nie. Die vuurwapenpermitstelsel is af en werk al byna twee jaar lank nie,” sê Cameron.
Polisiebeamptes teken nou met die hand vuurwapens en ammunisie vir hul skofte uit. “Dit laat groot ruimte vir menslike foute, maar selfs meer ruimte vir misdadigheid.”
Die polisie se interne vuurwapeneienaarskap-permitstelsel is in Maart verlede jaar weens wanbetaling afgeskakel. Benewens die oudit, vra Action Society ook dat daar dadelik vir die gebruik van die stelsel betaal word en dat dit aangeskakel word. Cameron sê in 2012 het die polisie beslag gelê op 112 aanvalsgewere, handwapens, kommersiële springstof en knaldoppies by die huis van ʼn bejaarde Oekraïnse egpaar in Norwood. Daar is later ontdek dit is uit die polisiestasie se bewysstukstoor verwyder. Dit is ʼn duidelike aanduiding dat die onwettige praktyke by die polisiestasie steeds voortduur, sê Cameron.