Baken in Lichtenburg maak na 73 jaar toe

Written by liesl. Posted in Jongste Nuus

NOORDWESTER – LICHTENBURG – Op 24 Desember 2021 het die bekende Wes-Transvaal Droogskoonmakers wat vir 73 jaar ‘n bekende baken in Beyers Naudé rylaan, Burgersdorp was, sy deure gesluit.

Die besigheid het in 1948 die lig gesien toe die Italianer, John Romersa die perseel, wat toe reeds ‘n droogskoonmakerperseel was, betree het. Hy het saam met sy vrou , Drien die besigheid bedryf tot haar aftrede in 1973 waarna haar broer, Hansie Karsten haar aandeel oorgeneem het. Die twee het die besigheid saam bedryf tot met John se dood in 1984, waarna Karsten uitgetree het. Daarna het Romersa se dogter, Noreen wat in Lichtenburg gebore en grootgeword het, die besigheid oorgeneem en bestuur.
Sy vertel dat sy op daardie stadium gevoel het dat sy aan die diep kant ingegooi het, omdat haar pa nie meer daar was om te vra wanneer sy onseker was oor ‘n besluit nie. Sy het deur die jare in die winkel gehelp en was op hoogte van sake en moes net gewoond raak daaraan om alleen die skip te stuur. Sy het met 13 werkers die mas opgekom en vir al die jare professionele en vriendelike diens aan die gemeenskap van Lichtenburg gelewer.
Wes-Transvaal Droogskoonmakers het nie sommer enige iemand weggewys nie en het groot dele van die ou Wes-Transvaal bedien met takke in al die omliggende dorpe. Daar is onder andere matte, sitkamerstelle, busse, vragmotors en tente skoongemaak boon behalwe die normale klerasie, komberse en gordyne. Noreen het al haar pa se ou toerusting (stoomketels en wasmasjiene) wat op die perseel was oorgeneem en bemeester, en sê sy kon later jare aan die materiaal voel en weet of dit in water of in benzien gewas moet word sonder om op die etiket te kyk.
Sy is lief vir mense en het altyd gepoog om haar kliënte tevrede te hou met professionele diens. Sy vertel dat die besigheid sowat tien jaar terug baie begin afneem het as gevolg van probleme met water en krag. Sy sê vyf jaar terug moes daar duisende liters water daagliks aangery word vir die stoomketel en masjiene as gevolg van die waterprobleme in die dorp. Om alles te kroon het Covid-19 gekom en besigheid het nog meer afgeneem.
Noreen het geweet dis onvermydelik om die deure van die ou staatmaker-besigheid te sluit waar daar so baie kosbare herinneringe opgesluit was. Sy bedank graag al haar jarelange kliënte vir hul getroue ondersteuning en sal elkeen se geselsies mis. Noreen hou haar nou besig met liefdadigheidswerk, naald- en tuinwerk en sê dat sy nie planne het om haar tuisdorp te verlaat nie.