Dr. André en Olaf ry Lichtenburg binne

Written by liesl. Posted in Jongste Nuus

NOORDWESTER – LICHTENBURG – Op Woensdag, 16 Februarie om 11:00 het dr. André Hattingh vir die derde agtereenvolgende jaar die “Ride for a Child” projek wat op 13 Februarie 2022 afgeskop het, ook na Lichtenburg gebring.

Hy en sy geselskap waaronder sy “regterhand” Olaf, the mean Biker (‘n bekende “mascot”) durf 7000 kilometer om Suid-Afrika op sy Harley Davidson Road-king aan om fondse te genereer vir operasies vir kinders wat dit nie kan bekostig nie.
Dr. André is die hoof uitvoerende beampte en stigter van Pediatric Care Africa. Met die #HELPMYOP veldtog wil hy bewustheid verhoog van kinders wat operasies en mediese behandeling dringend benodig en dit nie kan bekostig nie. Dr. André het verlede jaar ook deur Lichtenburg gereis op ‘n trekker tydens sy veldtog en plaaslike motorfietsryers het hom op die pad verwelkom. Hy het sy reis hierdie jaar op Witrivier begin en sal die mees noordelike, suidelike, oostelike en westelike dele van Suid-Afrika insluit. Hy sal op 5 Maart sy reis weer in Witrivier afsluit.
Dr. André, wat ook ‘n oupa van vyf kleinkinders is, daag enige persoon met ‘n motorfiets, asook alle ouers en grootouers uit om saam te ry vir ‘n gedeelte van die roete naaste aan jou dorp as geborgde ryers, waar hulle vir R1 per km deur ‘n vriend, maatskappy of hulself geborg word per kilometer om hierdie liefdadigheidsrit te bevoordeel. Borge wat wil betrokke raak kan meer inligting op die webwerf www.peiatriccareafrica.org kry. Hy ry saam met Lazyja Steyn met haar gelukbringer Betsie en sê met hul aankoms in Lichtenburg het hulle reeds ‘n 1000 km van die roete voltooi. Hy het op Koster grootgeword en sê die motorfietsrit vat aan ‘n mens se gewrigte en nek maar hy hoop dat alles die moeite werd sal wees en hulle met hierdie projek hul mikpunt van R250 000 sal haal. Plaaslike motorfietsryers het die geselskap deur Lichtenburg begelei na Mahikeng waarna hulle die pad na Vryburg gevat het waar hul sou oornag. Hy sal sy reis op 5 Maart weer in Witrivier afsluit.