Ma van baba stap tevergeefs om hulp te soek

Written by liesl. Posted in Jongste Nuus

NOORDWESTER – LICHTENBURG – ‘n Ma van Blydeville buite Lichtenburg het verlede week tevergeefs kilometers ver te voet vir haar baba hulp by die naaste kliniek gaan soek. Met haar aankoms het die verpleegpersoneel onkundig en onbehulpsaam voorgekom en die voorval het in ‘n tragedie geëindig.

Die ma van die sewe maande oue kind, Tina Shabeng het vir klein Onkabetse verlede Vrydag na die kliniek geneem nadat hy begin siek word het. Volgens haar kêrel, Aaron Mosiane by wie sy woon het die verpleegsters by die kliniek nie regtig geweet wat Onkabetse makeer nie en het gesê dat hulle hom ‘n oplossing van suiker, sout en kookwater moet gee. Tina het Saterdag haar kêrel by die werk gebel en gesê hulle seuntjie haal nie asem nie en dat sy hom weer na die kliniek gaan neem. Met haar aankoms by die kliniek het verpleegpersoneel blykbaar die kind by haar geneem en haar gevra om buite te wag. Nie lank daarna nie het hulle vir Tina meegedeel dat Onkabetse dood is. Die seuntjie was glo reeds dood met sy aankoms by die kliniek en die verpleegpersoneel het glo sy liggaam sonder enige verduideliking aan sy ma teruggegee sonder om die normale prosedure te volg en die liggaam te hou tot ‘n lykshuis dit kom afhaal. ‘n Verslae Tina moes net hoor dat daar niks is wat hulle by die kliniek verder vir haar of die kind kan doen nie en haar gevra om huistoe te gaan.
‘n Gebroke Tina moes met haar kind se lewelose liggaam deur die strate van Blydeville stap om by haar huis te kom waar sy self ‘n lykshuis moes skakel om die liggaam te kom haal. Die personeel van die lykshuis was verslae dat die kliniek die liggaam huis toe gestuur het en dit nie by die kliniek gehou het nie. Die pa van die oorlede seuntjie het na die voorval weer na die kliniek gegaan om duidelikheid oor die gebeure te kry, maar niemand wou hom te woord staan of verantwoordelikheid vir die voorval aanvaar nie. Volgens Mosiane is hulle erg getraumatiseer, kwaad en hartseer omdat die kliniek wat daar moet wees vir die gemeenskap hulle in hul uur van nood gefaal het. Volgens Kol. Willem Bekeer van die SAPD op Lichtenburg was geen geregtelike doodsondersoek nog teen druktyd versoek nie.