Chaos as skool uitkom

Written by liesl. Posted in Jongste Nuus

NOORDWESTER – LICHTENBURG – Verskeie klagtes oor die chaos wat heers in Sarel Cilliersstraat, Kieserville, as die Yusuf Dadoo Memorial Skool uitkom, het die Noordwester bereik.

Volgens inwoners wat in die omgewing bly is daar geen toesig oor kinders wat oor die pad hardloop wanneer die skool uitkom nie. “Daar is geen geverfde voetoorgange, padpatrollie of bordjies aangebring wat kan verseker dat kinders die straat veilig oorsteek nie. Motors, taxi’s en busse ry en stop in die straat om kinders op te laai, en dis absolute chaos by dié skool in die oggende en middae,” sê ‘n man wat in die omgewing bly.
‘n Ander inwoner is baie bekommerd oor die 12de Laan en Vyfdestraat kruising. Dit is blykbaar die straat wat almal gebruik om na die skool te ry en volgens die inwoner stop niemand by die stopstraat daar nie. “Elke oggend vrees mens vir jou lewe, want swaar verkeer ry doodeenvoudig net oor Vyfdestraat en probeer nie eers stadiger by die kruising ry nie. Onlangs is ‘n meisie van haar scooter af gery toe sy wou draai omdat sy voorrang het, maar die taxibestuurder het nie by 12 de Laan gestop nie,” vertel die inwoner.
Die Noordwester het die kommentaar van die hoof van Yusuf Dadoo Memorial, wat bestaan uit ‘n laer- en hoërskool, mnr. Motlaping, oor die veiligheidsaspek in die straat gevra. Hy sê dat die bestuur van die skool reeds met die Verkeersdepartement ontmoet het en dat hulle reeds in die oggende bystand verleen om kinders veilig op die skoolterrein te besorg.
Hy het ook genoem dat ouers veronderstel is om op die skoolterrein te stop waar daar genoeg parkering aangebring is om kinders af te laai, maar hulle versuim om so te doen. Volgens hom is daar een bord aangebring wat die “drop-off “- sone aandui.