Stadsaal toegegroei en vervalle

Written by liesl. Posted in Jongste Nuus

NOORDWESTER – LICHTENBURG – Die toestand van die stadsaalgebou en hoe die omgewing daar rondom lyk, is ‘n skreiende skande Die hele gedeelte van die stadsaal en die park is vuil en verwaarloos.

Die Noordwester het rondom die gebou gaan foto’s neem en ten tye daarvan is twee mense in die kort tyd opgemerk wat daar urnineer het! Die perseel is oorgroei van onkruid en oral lê vullis om die gebou gestrooi. Die reuk van urine en vullis is wat mens begroet as jy om die eens statige gebou ry.
Foto’s is slegs van die buitekant van die stadsaal geneem maar soos voorheen in die Noordwester berig is die binnekant van die stadsaal ewe vervalle en verwaarloos. Buite om die gebou span mense onder bome uit en is daar groot getalle wat net vir kwaadgeld rondhang. Verskeie straatverkopers is ook in die gebied bedrywig.
Die robot by die Poskantoor is al vir maande, selfs voor die verkiesing, reeds stukkend en hoewel dit aan raadslede oorgedra is wat dit weer onder die Ditsobotla Munisipaliteit se aandag gebring het, is dit steeds nie herstel nie. Sommige motoriste hanteer dit nou as ‘n 3-rigting stop maar taxi’s en mense uit ander provinsies en dorpe, wat nie bewus is van die probleem nie, ry ook oor die robot! ‘n Inwoner van Lichtenburg het verlede week ‘n noue ontkoming daar gehad toe ‘n voertuig met ‘n Vrystaat registrasienommer byna in haar vasgery het! Volgens ‘n ander motoris het hy gesien hoe ‘n ou vrou met ’n kierie ook rakelings gemis is omdat sy nie vinnig genoeg die pad kon oorsteek nie. “Die “Poskantoorbewakers” wat gedurig wag op toelaes is van die grootste sondebokke wat die oop ruimtes om die stadsaal so bemors,” het ‘n ander lid van die publiek laat hoor. Kort voor lank gaan ‘n noodlottige ongeluk by die 3-rigting robot plaasvind en daar word weereens ‘n beroep gedoen op Ditsobotla Munisipaliteit om verantwoordelik op te tree en die robot weer in werking te kry. Daar is onlangs in die Noordwester met groot bravade aangekondig dat die nuutverkose Burgemeester gaan toesien dat Lichtenburg opgeruim, herstel en skoongemaak gaan word – wat het nou van al die beloftes geword?