Dam nou rioolpoel!

Written by liesl. Posted in Jongste Nuus

NOORDWESTER – LICHTENBURG – Op Sondag, 11 April 2022 het inwoners van Retiefpark in Lichtenburg foto’s van dooie visse, paddas, watervoëls en eende op sosiale media gedeel wat by die Dauth Roode Dam (Le Rouxweg) geneem is.

Volgens inwoners in die omgewing was die eerste gedagte dat rou riool wat in die dam gestort word die oorsaak van die ekologiese ramp is, maar later was ‘n plaaslike geneesheer van mening dat die vrektes nie slegs deur riool veroorsaak kan word nie, maar wel deur chemikalië wat moontlik in die water teenwoordig kan wees.
Een van die inwoners het bevestig dat die industriële rioolafvoerpype agter Doringfonteintjieweg verstop is en reeds aangemeld is by die Gesondheidsdepartement maar nog geen herstelwerk daaraan gedoen is nie, vandaar die oorloop vanaf die industriële gebied in die omgewing. ‘n Ander inwoner sê dat ‘n swaelreuk ‘n tyd gelede by die dam teenwoordig was, wat kan dui op suur wat in die dam gestort is deur die rioolnetwerk van die industriële area.
‘n Ander besorgde inwoner sê dit is alombekend dat die dam en omliggende parkgebied al die jare afgeskeep word deur die munisipaliteit en nie eers die feit dat ‘n opposissieraadslid vir byna 10 jaar net ‘n klipgooi van die “ou jetty” gewoon het, het enige verskil gemaak nie. “Bo en behalwe die riool wat die dam se hoofbron van water geraak het is daar ook ‘n probleem van riete wat gevrek het nadat gifstof met ‘n hommeltuig (drone) daarop gespuit is in 2021. Hierdie aksie in ‘n vleiland kon sekerlik nie met magtiging plaasgevind het nie en het net nadeel vir die omgewing ingehou.”
“Inwoners met inligting hieroor word gevra om na vore te tree en Noordwes se Departement van Omgewing of https://www.cer.org.za te kontak sodat opgetree kan word teen diegene wat dit uitgevoer het. Indien oortredings van die NEMA wetgewing plaasgevind het kan boetes van honderdduisende rande opgelê word. Daar is deesdae byna geen skuiling oor vir die talle voëlspesies en ander akwatiese lewe wat die plante as skuilplek gebruik het nie en geen paddas word meer gehoor ten spyte van die buitegewone reënseisoen nie,” het die inwoner bygevoeg.
Die grondwet gee aan inwoners ‘n verskanste mensereg om in ‘n skoon en gesonde omgewing te woon. Die Vryheidsfront en Afriforum is ook besig om die toestand van die dam op ‘n volgende vlak te hanteer. Raadslid George Visser van die VF Plus het gesê omdat die Eeufeesdam vanuit die Dauth Roode dam gevoed word, is dit duidelik dat hierdie rioolstorting en die verrotting van dooie visse, paddas ens. gaan oorspoel na dié dam ook.
Hy sê die VF Plus het reeds skriftelik die saak onder die aandag van die Speaker en waarnemende Munisipale Bestuurder gebring, maar het nog geen reaksie van hulle ontvang nie. Dringende watergehalte toetse moet gedoen word en ‘n rehabilitasie program sal van stapel gestuur moet word. “Die VF Plus is van voorneme om ‘n amptelike klag oor hierdie aangeleentheid en ander voortslepende probleme rakende die riool besoedeling in Ditsobotla by die Blou Skerpioene in te dien, het hy gesê.
Pius Batsile, woordvoerder van die Ditsobotla Munisipaliteit het op navraag deur die Noordwester gesê dat die saak met die hoof Gesondheidsinspekteur van die Distriksmunisipaliteit opgeneem is en dat toetse van die water gedoen gaan word. Hy het ook bevestig dat die probleme met die rioolafvoerpype agter Doringfonteintjieweg reeds aandag geniet en die publiek om verskoning gevra vir die ramp. Hy het die versekering gegee dat die munisipaliteit alles in hul vermoë sal doen om die probleme dadelik aan te spreek.