Man sit op straat met vuurwapen

Written by liesl. Posted in Jongste Nuus

NOORDWESTER – LICHTENBURG – Op Maandag 25 April 2022 omstreeks 16:00 is ‘n jong man met ‘n wit bergfiets voor ‘n perseel op die hoek van Bergsma- en Skoolstrate, Lichtenburg op kringtelevisie opgemerk waar hy met ‘n versteekte pistool of iets soortgelyk op die sypaadjie gesit en speel het.

Die voorval is deur kol. Willem Bekeer, stasiebevelvoerder van die SAPD op Lichtenburg bevestig.
Hy waarsku die gemeenskap in daardie omgewing om versigtig te wees aangesien kriminele elemente vir ‘n lang periode sagte teikens verken voor hulle oorgaan tot aksie. Hy wil ook die volgende boodskap by kriminele elemente uitbring: “In elke beroep word werknemers van kennis en toerusting voorsien om hul werk suksesvol uit te voer en dieselfde geld vir Lichtenburg SAPD. Ons sal ook nie huiwer om te verseker dat ons, ons verpligtinge binne die raamwerk van die grondwet suksesvol uitvoer nie. Ek waarsku geweldadige kriminele dat Lichtenburg polisie nie sal terugstaan nie.”
Kol. Bekeer sê wat hom egter meer ontstel is dat hy duidelik op die beeldmateriaal kon sien hoe ander persone verbystap en die man met die vuurwapen of iets soortgelyk groet terwyl hy baie verdag opgetree het! Die gemeenskap word versoek om sulke verdagte optrede by die plaaslike polisie aan te meld.