Word jy geboelie?

Written by liesl. Posted in Jongste Nuus

NOORDWESTER – LICHTENBURG – Die Lichtenburg SAPD, by name Lt. Kol. Olivier en A/O Nortman is op 25 April 2022 vergesel deur Kaptein Thomas Scanlen van Hartbeespoort en het besoek afgelê by Hoërskool Lichtenburg om leerders toe te spreek oor boelies op die skoolgrond.

Kaptein Scanlen het begin deur vir leerders te vra watter rol hulle speel as iemand geboelie word. Hy het ook gevra ‘word jy geboelie?’ ‘is jy dalk die boelie?’ ‘sien jy hoe iemand geboelie word?’ Die kinders het almal geïdentifiseer met een van die drie vrae.
Die definisie van ‘n boelie is bespreek asook die fases van boelie-ry soos boelie is ‘n deurlopende aksie, dis iets wat meer as een keer gebeur, boelie gedrag maak baie seer en boelies laat iemand totaal minderwaardig voel. Hy het uitgewys dat daar verskillende tipes boelies is, o.a. die fisiese boelie, verbale boelie en emosionele boelie. Verbale boelies is gewoonlik meisies wat woorde gebruik om ander seer te maak en fisiese boelies is gewoonlik seuns.
Kaptein Scanlen het dit baie duidelik gemaak dat ons almal ‘n verskil kan maak om boelies te stop. Die les is dat jy jou eie lewe bepaal en nie moet toelaat dat ‘n boelie jou toekoms beinvloed nie. Kol. Willem Bekeer, stasiebevelvoerder van die polisie op Lichtenburg het almal bedank wat bygedra het tot die suksesvolle besoek.