Topmatrieks ontvang skootrekenaars van NWK

Posted in Skole

NOORDWESTER – LICHTENBURG –NWK het op Woensdag, 26 Januarie 2022 een-en-twintig skootrekenaars aan die topmatrieks van 2021 van die 21 toppresterende skole in Ditsobotla-subdistrik oorhandig wat hulle tydens hul tersiêre studies kan gebruik.

Die oorhandiging is tydens ‘n spogggeleentheid by Hoërskool Lichtenburg waar die leerlinge vereer is, gedoen. NWK se direkteur van ekonomiese ontwikkeling, Benedict Modise, het die matrikulante van 2021 by die geleentheid toegespreek. “NWK voel geëerd om intelligente matrikulante soos julle in Ditsobotla te hê. Julle opregtheid, dissipline en voorbereiding het julle hierdie toekenning besorg en ons wens julle geluk. Ons waardeer die toewyding wat julle tot jul studies openbaar het.”
Hy het voortgegaan deur te sê dat die provinsie se prestasie ‘n weerspiëling van die leerders se veerkragtigheid is. Hulle moes aanpas by nuwe maniere van leer tydens die COVID-19 pandemie wat hulle skoolprogram ontwrig het.
“Die jaar 2021 was nie ‘n maklike jaar nie en kontak-onderrig kon nie normaal voortgaan nie. Waar ander tou opgegooi het, het julle deurgedruk. Ek weet hierdie mylpaal is maar een van baie wat die toekoms inhou.”
Hy het benadruk dat NWK talle volhoubare indiensnemingsgeleenthede vir kwalifiserende kandidate het en dat hulle dit in gedagte moet hou wanneer hulle hul tersiêre onderrig aanpak. Die waarde van NWK se skenking beloop R259 324. Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy het in 2013/2014 vir die eerste keer skootrekenaars aan toppresterende matrieks uitgedeel. Sederdien het 166 van hulle al skootrekenaars ter waarde van meer as R1,5 miljoen ontvang.
Tokollo Mafora van Bophirima High School het gesê dat NWK se skenking van skootrekenaars aan toppresteerders hom aangemoedig het om hard te werk. “My ma is geldelik glad nie in staat om so iets te bekostig nie, so ek het baie hard gewerk met die hoop dat ‘n goeie prestasie my ‘n skootrekenaar sou besorg.” Hy gaan hierdie jaar met ‘n LLB-graad by die Universiteit van Johannesburg begin en wil dit graag met sielkunde kombineer.
Remofilwe Dithejane van Baitshoki Secondary High School, wag nog om te hoor of sy keuring het om skakelwese te studeer. Sy is baie dankbaar vir die skootrekenaar en het bygevoeg dat sy hoop om hiermee basiese programme soos Micorsoft Word baas te raak.