Fokus op landbou week 27, 2015

Posted in Landbou

NWK Graanmark oorsig : 25 Junie 2015 tot 01 Julie 2015

NOORDWESTER – LICHTENBURG NWK het die volgende inligting rakende die graanmarkpryse en prysbewegings aan die Noordwester voorsien:

Internasionale mielie- en oliesade pryse
Mieliepryse in die VSA beweeg die afgelope week sterk opwaarts. Tans verhandel Julie 2015 Corn teen $4.00 per skepel teenoor $3.64 verlede week. In die VSA word die toestand van die mielie-oes op 68% goed-tot-uitstekend geraam, 3% laer as verlede week. Verlede jaar op dieselfde tydstip was die toestand van 75% goed-tot-uitstekend. 8% van die mielies is in ’n swak toestand teenoor 6% verlede week en slegs 5% verlede jaar op dieselfde tydstip. Feitlik al die aangeplante mielies het vir die tweede week agtereenvolgens bo-normale reënval ontvang en die toestande lyk baie gunstig. Dele in die oostelike Middeweste, spesifiek in Illinois, het hul hoogste reënval ervaar in die afgelope 25 jaar. Die VSA het hul aanplantings verslag Dinsdag-aand vrygestel. Hulle het 88.897 miljoen akker geplant teenoor Maart se die verwagte syfer van 89.199 miljoen akker. Die syfer is die kleinste sedert 2010. Verlede jaar het hulle 90.597 miljoen akker geplant. Die VSA het op 1 Junie vanjaar 4.446 miljoen skepel se oordragvoorrade gehad, binne die verwagting en heelwat hoër as die 3.852 miljoen skepel in 2014 op dieselfde tydstip. Vanuit ’n tegniese oogpunt blyk die korttermyn tendens sywaarts tot opwaarts te wees.

Sojaboonpryse in die VSA vir Julie-lewering beweeg vir die derde week agtereenvolgens opwaarts. Tans verhandel die Julie 2015 sojaprys teen $10.49 per skepel, teenoor $9.81 ‘n week gelede. Die boere in die Middeweste word deur baie nat toestande gekniehalter en sukkel om hul sojaboon-aanplantings te voltooi. Hulle staan op 95% aangeplant teenoor 90% verlede week. Die 5-jaar gemiddelde is 97%. In die afgelope twee weke kon hulle slegs 8% vorder as gevolg van weerstoestande. Ongeveer twee miljoen hektaar in die VSA moet nog geplant word. Kansas was redelik vêr agter, maar staan op 86% aangeplant, met slegs Missouri wat nog baie vêr agter is op 62%. Daar het reeds 89% van die sojabone opgekom teenoor 84% verlede week. Die toestand van 63% van hul oes word goed-tot-uitstekend geraam teenoor 65% verlede week, met 9% in die swak tot baie swak kategorie teenoor 8% verlede week. Die VSA het ook hul oordragvoorrade soos op 1 Junie 2015 bekend gemaak. Daar was 625 miljoen skepel sojabone beskikbaar, redelik in lyn met die verwagtinge en heelwat hoër as die 405 miljoen skepel in 2014 op dieselfde tydstip. Daar word geraam dat 85.139 miljoen akker geplant is, teenoor 83.701 miljoen akker in 2014. Die verwagting in Maart vanjaar was 84.635 miljoen akker. Vanuit ’n tegniese oogpunt blyk die korttermyn tendens op sojabone in die VSA sywaarts tot opwaarts te wees.

Wisselkoers van die Rand teenoor die VSA Dollar
Die Rand het die afgelope week bestendig vertoon en verhandel teen R12.16/VSA-$ vandag, vanaf R12.19/VSA-$ verlede week. Die land het ’n handelsbalans surplus van R4.987 biljoen in Mei aangeteken, teenoor ’n tekort aan R1.442 biljoen in April. Die Euro verloor effe stoom die afgelope week teen die VSA-$ en verhandel rondom $1.1147 vanoggend teenoor $1.1198 verlede week. Brent ru-olie verhandel die afgelope week effe afwaarts tot $63/vat. Goudpryse verhandel die afgelope week sywaarts rondom $1 180/ons, met platinumpryse wat sywaarts verhandel rondom $1 075/ons.

Plaaslike mielie, sonneblom en sojaboonpryse
Witmielies vir Julie 2015-lewering het ’n baie sterk opwaartse week beleef en verhandel tot R3 148/ton teenoor verlede week se R2 956/ton. Pryse het deur ’n langtermyn tegniese band opwaarts uitgebreek en indien R3 200/ton gebreek word, kan die pryse tot R3 500/ton verhandel. Die NOK het Dinsdag hul vyfde skatting vrygestel en het die witmielie oes met slegs 82 000 ton tot 4.649 miljoen ton verlaag. Tegnies blyk die korttermyn tendens sywaarts tot opwaarts te wees. Afgelei van tonnemaat gelewer is die NWK gebied soos op 29 Junie rondom 67% gestroop, teenoor 60% verlede week. Nasionaal is Suid-Afrika 45% gestroop soos op 20 Junie teenoor 38% die vorige week, met die nuwe lewering syfers wat later Woensdag vrygestel word.

Geelmielies vir Julie 2015-lewering het in witmielies se voetspore gevolg en van R2 489/ton opwaarts verhandel tot R2 680/ton. Die NOK het die nasionale geelmielie oes met slegs 2 750 ton tot 5.105 miljoen ton verlaag. In totaal word die oes op 9.755 miljoen ton geraam.

SAGIS raam RSA se uitvoere op 62 179 ton witmielies en 29 333 ton geelmielies, met Botswana en Namibië wat die grootste ontvangers is. In 2014 op dieselfde tydstip was die witmielie uitvoere 89 785 ton, met geelmielie uitvoere wat reeds op 223 382 ton gestaan het. Invoere vir geelmielies sedert 1 Mei 2015 staan op 79 850 ton, alles afkomstig vanaf Argentinië, met nog ’n boot of drie wat op pad is na die Kaap. Witmielie invoere staan op 163 ton, alles afkomstig vanaf Zambië.

Sonneblom pryse vir Julie-lewering het die afgelope week sywaarts verhandel rondom R5 320/ton. Sojabone vir Julie 2015-lewering op die JSE het die afgelope week afwaarts verhandel van R4 915/ton tot R4 765/ton. Die NOK het Dinsdag die nasionale sojaboon oes verhoog met 65 250 ton tot 1.008 miljoen ton teenoor verlede jaar se 948 000 ton. Die sonneblom skatting is onveranderd gelaat op 612 400 ton teenoor 2014 se 832 000 ton oes.

Opsomming
Geloofwaardigheid in Dinsdag se NOK skatting van 9.755 miljoen ton is bitterlik moeilik. Die algemene konsensus is dat produsente feitlik klaar gestroop is in die meeste gebiede van die Noord-Wes, Mpumalanga en Vrystaat en dat die lewering syfers nie korreleer met die hektare wat gestroop word nie. Die hektare word vinniger klaar gestroop as die tonnemaat wat gelewer word.

Dit dui dus op ’n oes wat heelwat laer kan wees as die 9.755 miljoen ton en gaan ’n sneeubaleffek regdeur die land se ekonomie veroorsaak van hoër voedselpryse en stygende inflasie.

Skakel gerus met NWK Graanverhandeling by (018) 633 1001 om met een van die portefeuljebestuurders naamlik, Stefan van der Westhuizen, Deon Malan, Derik Strydom Kobus du Plessis of Hendrik Gagiano te gesels.