Fokus op Landbou: Week 38, 2015

Posted in Landbou

Oorsig oor graanmarkte/pryse - NWK

NOORDWESTER – LICHTENBURG – NWK het die volgende inlligting aan die Noordwester voorsien rakende die graanmarkte en pryse:


Internasionale mielie- en oliesade pryse
Mieliepryse in die VSA beweeg die afgelope week opwaarts. Tans verhandel Desember 2015 Corn teen $3.90 per skepel teenoor $3.67 verlede week. Twee weke gelede was die prys $3.74 per skepel. In die VSA word die toestand van die mielie-oes as 68% goed-tot-uitstekend geraam, onveranderd sedert verlede week. Verlede jaar op dieselfde tydstip was 74% van die oes goed-tot-uitstekend. Daar is 10% van die mielies in ’n swak-tot-baie-swak toestand, onveranderd sedert verlede week, maar effe meer as die 7% op dieselfde tydstip verlede jaar. In die suidelike dele van die VSA vorder die stroopproses fluks. Dele van Illinois in die Middeweste het ook die afgelope week begin stroop. Teen Sondag, 13 September, was 5% van die VSA se oes reeds geoes teenoor die 5-jaar gemiddelde van 9%. Die VSA het verlede Vrydag hul jongste aanbod verslag, die World Agricultural Supply en Demand Estimate (WASDE-verslag), vrygestel. Wêreld-oordragvoorrade is met 5,4 miljoen ton tot 189,69 miljoen ton verlaag. Produksie is met 7,51 miljoen ton tot 978,10 miljoen ton verlaag, teenoor 2014 se 1007,47 miljoen oes. Die VSA se oes word met 2,57 miljoen ton tot 345,07 miljoen ton verlaag, na ’n styging van 3,96 miljoen ton in Augustus. In 2014 was die VSA se oes 361,09 miljoen ton. Die VSA se oordragvoorrade is met 3,08 miljoen ton verlaag tot 40,45 miljoen ton. Die opbrengs word 167,50 op bushel/akker geraam teenoor die vorige skatting van 168,80 bushel/akker.

Brasilië en Argentinië se oes word beide onveranderd gelaat op 79 miljoen ton en 25 miljoen ton onderskeidelik. Vanuit ’n tegniese oogpunt blyk die korttermyn prystendens sywaarts tot opwaarts te wees.

Sojaboonpryse in die VSA vir November-lewering het die afgelope week opwaarts verhandel. Die prys het vanaf $8.72/skepel verlede week tot $8.87/skepel vandag verhandel. Twee weke gelede was die prys $8.91/skepel. Reënval het oor die afgelope 10 dae uitgesak oor die vernaamste sojaboon-dele. Die toestand van 61% van die die sojaboon-oes word as goed-tot-uitstekend geraam, 2% laer sedert verlede week. Verlede jaar op dieselfde tydstip was 72% van die oes goed-tot-uitstekend. Daar is 12% van die oes in die swak-tot-baie-swak kategorie, 1% hoër sedert verlede week, maar 6% meer as verlede jaar op dieselfde stadium. Die VSA het in hul jongste WASDE-verslag, die wêreld-oordragvoorrade met 1,9 miljoen ton tot 84,98 miljoen ton verlaag. Produksie is met 0,44 miljoen ton tot 319,61 miljoen ton verlaag, teenoor 2014 se 319,37 miljoen ton oes. Die VSA se oes word met 0,51 miljoen ton tot 107,10 miljoen ton verhoog, na ’n styging van 0,86 miljoen ton in Augustus. Brasilië en Argentinië se oes word beide onveranderd gelaat op 97 miljoen ton en 57 miljoen ton onderskeidelik. Vanuit ’n tegniese oogpunt blyk die korttermyn prystendens op sojabone in die VSA sywaarts tot opwaarts te wees.

Wisselkoers van die Rand teenoor die VSA Dollar
Die Rand is steeds op die voorvoet die afgelope week en verhandel teen R13,46/VSA-$ teenoor R13,60/VSA-$ verlede week. Twee weke gelede het die Rand teen R13,56/VSA-$ verhandel. Die Rand het sedert 15 Maart vanjaar met amper R2,00 vanaf R12,47 teenoor die VSA-$ verswak. Verlede jaar op 15 September het die Rand teen R10,96/VSA-$ verhandel. Die Rand verhandel vandag teen R15,20/Euro teenoor R15,18/Euro verlede week. Verlede jaar op 15 September het die Rand teen R14,19/Euro verhandel. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) vergader volgende week oor rentekoerse en op die stadium prys die mark ’n 25 basispunt-styging in.

Die Euro het die afgelope week veld gewen teen die VSA-$ en verhandel vandag teen $1.1283, teenoor $1.1165 verlede week. Die Amerikaanse Reserwebank vergader die week en ’n aankondiging oor hul rentekoerse word Donderdag verwag. Brent ru-olie verhandel laer vir die tweede agtereenvolgende week en staan steeds onder die $50/vat. Goudpryse verhandel die afgelope week laer van $1 123/ons tot $1 105/ons, terwyl platinumpryse van $990/ons tot $958/ons vandag verhandel het.

Plaaslike mielie, sonneblom en sojaboonpryse
Witmielies vir Desember 2015-lewering het die afgelope week opwaarts verhandel tot R3 203/ton vanaf verlede week se R3 135/ton. Twee weke gelede het die prys teen R3 158/ton verhandel. Geelmielies vir Desember 2015-lewering het die afgelope week opwaarts van R2 873/ton tot R2 931/ton verhandel. Twee weke gelede het die prys teen R2 815/ton verhandel. In totaal is daar sedert 1 Mei 2015 nou 8,251 miljoen ton mielies, of 83,8% van die NOK se skatting, by silo’s gelewer. Verlede jaar op dieselfde stadium was daar 12,461 miljoen ton, of 90,1% van die totale lewerings by die silo’s gelewer.

SAGIS raam Suid-Afrika se uitvoere sedert 1 Mei 2015 tot en met 11 September op 146 528 ton witmielies en 77 016 ton geelmielies, met Botswana wat die afgelope week die grootste ontvanger was van wit- en geelmielies. Die totaal staan nou op 223 544 ton gesamentlik. Vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar was daar reeds 1 333 933 ton mielies uitgevoer. Daar was die afgelope week geen geelmielie-invoere gewees nie, terwyl 574 ton witmielies vanaf Zambië ingevoer is. Die totale witmielie-invoere staan nou op 5 824 ton. Die totale mielie-invoere sedert 1 Mei 2015 staan nou op 244 697 ton. Die skip met witmielies vanaf Meksiko word eerskomende naweek verwag om in Durban-hawe anker te gooi. Daar is ook ’n hele paar skepe geskeduleer in die volgende 45 dae met geelmielies aan boord vir onderskeidelik Durban en Kaapstad-hawe.

Sonneblompryse vir Desember 2015-lewering het die afgelope week steeds opwaarts van R5 990/ton tot R6 076/ton verhandel. Sojabone vir Desember 2015-lewering op die JSE het die afgelope week sterk afwaarts verhandel vanaf R5 556/ton tot R5 380/ton.

Opsomming
Pryse verhandel steeds binne-in ’n sywaartse band. Produsente in groot dele van die Noord-Wes en Mpumalanga begin lande voorberei vir aanplantings. Die afsnytyd vir vroeë mielie-aanplantings is 25 September. Die vooruitsigte vir die komende 7 dae blyk normaal te wees, met warmer temperature vanaf volgende week.

Skakel gerus met NWK Graanverhandeling by (018) 633 1001 om met een van die portefeuljebestuurders naamlik, Stefan van der Westhuizen, Deon Malan, Derik Strydom Kobus du Plessis of Hendrik Gagiano te gesels.

Fokus op Landbou: Week 29, 2015

Posted in Landbou

NWK Graanmark oorsig: 9 Julie 2015 tot 15 Julie 2015

NOORDWESTER – LICHTENBURG – NWK het die volgende inligting aan die Noordwester verskaf rakende die graanmarkpryse en prysbewegings:
Internasionale mielie- en oliesade pryse
Mieliepryse in die VSA beweeg die afgelope week opwaarts. Tans verhandel September 2015 Corn teen $4.29 per skepel teenoor $4.14 verlede week. In die VSA word die toestand van 69% van die mielie-oes as goed-tot-uitstekend geraam, onveranderd sedert verlede week. Verlede jaar op dieselfde tydstip was 76% van die oes goed-tot-uitstekend. Net 9% van die mielies is in ’n swak-tot-baie-swak toestand, 1% laer as verlede week, maar effens meer as die 5% op dieselfde tydstip verlede jaar. Weerkaarte lyk gemeng vir die komende sewe tot tien dae, met baie reën wat deur sekere weervoorspellers verwag word en ander kaarte wat nie so baie aantoon nie.