Fokus op landbou week 27, 2015
NWK Graanmark oorsig : 25 Junie 2015 tot 01 Julie 2015
NOORDWESTER – LICHTENBURG NWK het die volgende inligting rakende die graanmarkpryse en prysbewegings aan die Noordwester voorsien:
Internasionale mielie- en oliesade pryse
Mieliepryse in die VSA beweeg die afgelope week sterk opwaarts. Tans verhandel Julie 2015 Corn teen $4.00 per skepel teenoor $3.64 verlede week. In die VSA word die toestand van die mielie-oes op 68% goed-tot-uitstekend geraam, 3% laer as verlede week. Verlede jaar op dieselfde tydstip was die toestand van 75% goed-tot-uitstekend. 8% van die mielies is in ’n swak toestand teenoor 6% verlede week en slegs 5% verlede jaar op dieselfde tydstip. Feitlik al die aangeplante mielies het vir die tweede week agtereenvolgens bo-normale reënval ontvang en die toestande lyk baie gunstig. Dele in die oostelike Middeweste, spesifiek in Illinois, het hul hoogste reënval ervaar in die afgelope 25 jaar. Die VSA het hul aanplantings verslag Dinsdag-aand vrygestel. Hulle het 88.897 miljoen akker geplant teenoor Maart se die verwagte syfer van 89.199 miljoen akker. Die syfer is die kleinste sedert 2010. Verlede jaar het hulle 90.597 miljoen akker geplant. Die VSA het op 1 Junie vanjaar 4.446 miljoen skepel se oordragvoorrade gehad, binne die verwagting en heelwat hoër as die 3.852 miljoen skepel in 2014 op dieselfde tydstip. Vanuit ’n tegniese oogpunt blyk die korttermyn tendens sywaarts tot opwaarts te wees.