Sien, die saak staan so!

Posted in Letters

Oom Sas skryf: 

Iemand vra of ek darem iets mooi onthou van my verkeersberoep. My antwoord is onomwonde ‘ja’.Ek kan `n boek skryf oor die lewensdramas, vreugde en hartseer, want sien ek was ook daar as raadgewer, huweliksberader, finansiële konsultant en ook om te vervolg.In die begin 1982 was Kathu `n florerende myndorp.

Die vakleerlinge was nog Eppies en baie lewendig, veral na diensplig. So was daar ook baie spoetvrate wat snags die strate rooi geverf het.Saterdagaand neem `n motorfiets die strate op horings. Ek gaan wag by die Eppiekoshuis, een of ander tyd sal hy hier verby moet kom. Ek weet dit is dus `n onbegonne taak om hom in die dorp te probeer vang. Hy gaan net wegjaag en `n ongeluk veroorsaak.Middernag trek `n Datsun 1400-bakkie tussen die geparkeerde voertuie in. `n Klompie luidrigtige manne kom in my rigting aangestap. Regoor my voertuig steek een vas. “Hel ou pel en wat soek jy so laat in die nag,” kondig hy aan terwyl hy dromme op my kar se dak speel.Toe hy sien dit is oom Sas, skrik hy homself byna nugter.Ek praat met die seun oor sy drinkgewoontes.“Oom sien, die saak staan so. Ek het Woensdag 21 geword, wou `n dop maak saam met my maats, maar toe is my ouma oorlede. Oom sien die saak staan so, toe drink ons nou maar vanaand,” vertel hy.Hy sê hy kom van die Kakamasomgewing, hoe lief hy vir sy ouma was en hoe goed sy ouers vir hom is. “Nou wat dink jy gaan jou ouers sê as hulle sien jy is dronk?” speel ek so `n bietjie op sy gevoel. " Oom sien, die saak staan so, ek dink hulle sal baie teleurgesteld wees." Ek laat hoor toe dat ek dink ek hom tog maar moet gaan toesluit.“Nee oom kan dit nie doen nie, die saak staan so, my ouma word Dinsdag begrawe en wat sal oupa sê as ek nie daar is nie? Die saak staan so, ek is nog `n draer ook.” Ek stuur die aand `n snikkende seun na sy eppiebed en in sy dronkverdriet belowe hy om nooit weer te drink nie. Sowat sewe jaar later, stap `n aantreklike jong man en vroutjie met `n pragtige seuntjie in die arms my kantoor binne. Hy kyk my aan en glimlag. “Dit lyk vir my oom ken my nie meer nie. Die saak staan nou so, ek werk in Secunda en het net my vroutjie en seuntjie vir oom kom wys. Ek het haar vertel van die aand wat oom my vasgevat het; Ook van my belofte.” “Ja” beaam die vroutjie. “Oom Sas ek het `n goeie man gekry.” Sy kyk vol liefde na hom op. “Oom Sas, ek het nooit weer gedrink nie, my seun gaan my nooit dronk sien nie.” Daarna nooi ek hul vir `n koppie koffie. “Oom sien die saak staan so, my oupa is nou ook oorlede en ons wil graag op Upington wees voor donker. Die saak staan so, hy word môre begrawe. Dit sal my seuntjie, die vierde nageslag naamgenoot se eerste begrafnis wees,” sluit die jongman af. Die saak staan nou so, erkentlikheid is van die grootste bates wat `n mens kan besit. Dankie ou seun, vandag is jy seker al `n oupa  - een met vaste beginsels.