Skoonheid wat jou bybly

Posted in Letters

Sas Smit, Marthie du Plessis Dienssentrum, Vryburg, per e-pos - Ek lees verlede week in Stellalander dat die Glam Guru, Hannon Bothma, die dorp besoek het. Ek het hom ook 'n paar jaar gelede ontmoet toe hy betrokke was by 'n projek om fondse in te samel vir die Marthie du Plessis Dienssentrum. Ek onthou die man se stewige handdruk en sy netjiese kleredrag. Ek onthou ook Hannon se gevatte raad aan die vroue: "Skoonheid kom van binne - van binne botteltjies en buisies!".

Maar ek wil jul vandag vertel van innerlike skoonheid. in die dae toe lampolie en kersvet gemeng is as teenvoeter vir skurwe hande en voete.

In daardie dae het my paaie gekruis met Trynie-kind, enigste spruit van oom Koos Kalbas en tant Kotie.

Oom Koos het drie plase besit en Trynie moes oral help: Buite met die boerdery en binne met die huis.

So kom ek een oggend op oom Koos se werf aan. Ek vind Trynie by die buite bakoond, oë vol trane. "Dis die Jan Fiskaal; hy het hierdie toktokkie aan die doringdraad opgehang," snik sy toe ek wil weet wat makeer. Sy hou die gediertetjie in haar bakhand. "Hy skop nog. ons bid dat hy sal leef," sê sy, haar stem net so swaar soos haar hart. Ek probeer troos en sy kyk op na my. Ek neem die sproetgesiggie, die skewe neus, die bak ore en die verslonste hare in. Maar dis die meisiekind se blou oë wat my vasvang. En ek vergeet heeltemal van ál haar ander uiterlike tekortkominge.

Sowat 10 jaar later loop ek weer vir oom Koos raak. Hy is uitgelate; Drie knapies - voshare, sproetgesiggies en bakore speel om Oupa. Hulle het dieselfde sielvolle oë as hul ma.

Ou Koos raak ernstig toe ek groet. "Weet jy Sas, die Here is goed; Nou het elke plaas 'n baas."

Ek kry 'n vars boerebrood en 'n pond vars botter voor ek vertrek. Toe ek in Trynie se oë kyk toe ek dankie sê vir die geskenk, word ek wéér getref deur die mooiheid wat deur daardie oë skyn en ek weet: Ek staan hier voor 'n ware Spreuke 31:10-vrou.