Lentedag

Posted in Letters

Sas Smit, per e-pos, Vryburg – Ek dink terug aan my kinderjare in Boesmanland en hoe ons vrolik die veld ingevaar het en sing, “as ek moeg raak vir die lewe in die stad”. Daardie dag het ons wit aangetrek en met `n wandelstaf die veldlewe verken. 

“Toktokkies, voëltjies, klein diertjies en veldblommetjies, voorwaar, al die veld is vorlik,” het ons gesing.

Vandag op Lentedag stuur vriende mooi boodskappe en bel. Ek is dankbaar, maar iets kom kort. Ek voel ek verlang na die ruimtes.

Laat die namiddag is daar `n skugter kloppie aan my voordeur. Toe ek oopmaak, staan daar `n fraaie, vriendelike dogtertjie. Sy hou `n blommetjie na my toe uit en sê, “Ek het vir oom `n blommetjie gebring.”

Nét daar is my dag gemaak. Dankie Liewe Jesus dat U steeds U engeltjies uitstuur om harte te verbly.