Noodlanding met vliegtuig oorleef sonder ‘n skraap

Posted in Home

STELLALANDER-VRYBURG- Rex Barnard wat ’n deeltydse boer asook ‘n mediese dokter in die Bray omgewing is, het behendig ‘n noodlanding op ’n ander boer se grond uitgevoer ná sy vliegtuig se enjin gestaak het.

Dit was moontlik danksy 4 500 uur vliegervaring dat dr. Rex Barnard (60) en sy seun, ook Rex (21), vandag die storie kan vertel van ’n hulle noodlanding naby Bray wat hulle sonder ’n skraap of ’n blou kol oorleef het.  Volgens ‘n video wat Rex jr. ewe kalm tydens die noodlanding met sy selfoon afgeneem het, kan gesien word hoe sy pa Rex probeer om die enjin, wat gestaak het, weer aan die gang te kry, maar later eerder na ’n geskikte noodlandingsplek gesoek het. “Ons het op Vrydag (7 Januarie) ongeveer 16h00 die middag van my plaas opgestyg om na die Moloporivier te gaan kyk,” sê Barnard sr. “Ek het gehoor dit het danksy goeie reënval begin loop en is op pad Bray toe. Die vliegtuig was net vyf minute in die lug toe die enjin staak. Ons was so 1 000 voete in die lug en ek het probeer om dit weer aan die gang te kry, maar dit het nie gewerk nie.
‘n Mens moet steeds die vliegtuig vlieg, maar jy moet konsentreer en na ’n geskikte landingsplek soek. Enige persoon wat vliegvaardighede het sou die landing kon uitvoer en op daardie oomblik was die belangrikste om die regte besluit te neem oor waar om te land.  “Ons het nie genoeg hoogte gehad om ’n groot wye pad te haal nie. Ek het ’n gang op ’n plaas onder die vliegtuig gesien en besluit om daar te gaan land. Dit is wanneer boere draad weerskante van ’n stuk veld span om beeste onder beheer te hou wanneer dit van kampe verskuif word. Die gang was sowat 5 meter breed, maar die vlerkspan was wyer.  Gelukkig was daar nie bome en bosse soos in die tweespoorpaadjie daarnaas nie. Dit is uiters gevaarlik om ’n boom te tref tydens ’n noodlanding. “Ek het probeer kalm bly, hoewel ek groot geskrik het. Ek was voorheen al ’n soortgelyke situasie waar passasiers histeries raak en chaos veroorsaak, maar in hierdie geval het my seun Rex uiters kalm gebly en die video geneem. As dit nie daarvoor was nie, was ons nie nou hier nie. Al wat ek vir my seun gesê het, is dat hy in die sitplek moet terugsit om die gewig in die tweesitplekvliegtuig te verskuif.  “Ons het ingekom na die gang en met Kalahari-sand, groot graspolle en molshope wat ons getref het wat die onderstel laat breek het. ‘n Ankerpaal het die linker vlerk van die vliegtuig getref en die vliegtuig na links geruk. Die vlerk is erg beskadig en die onderstel is afgeruk, waarna ons tot stilstand gekom het. Al wat my seun gesê het toe ons uitklim, is dat ons die vliegtuig maar kan weggooi. Ek het volmondig saamgestem. Intussen het die boer en sy kleinseun wat op die plaas doenig was, nader gejaag. Hulle het eers gedink ek oefen om ’n noodlanding te doen totdat hulle die slag gehoor het. Hulle kon ons darem huis toe vat.” Barnard sr. vermoed iets was fout met die vliegtuig se brandstoftoevoer, maar die ondersoek van die Burgerlugvaartowerheid sal die oorsaak van die ongeluk bepaal. Hy bedryf ’n gemengde beesboerdery en werk ook as ’n dokter by sy praktyk in Bray waar selfs pasiënte uit Botswana hom besoek.  “Hier is alles ver uitmekaar en ons ry op grondpaaie. Om Severn toe te ry, so 200 km van hier, duur drie en ’n half uur, terwyl dit 40 minute is om te vlieg. Deesdae ry ek net omdat aanloopbane en paaie te veel verval het om daar te land of op te styg. Ek ry ook nie meer so gereeld na klinieke wat ver is nie.” (Foto: verskaf)