GEMSBOK-VANZYLSRUST: Een van die Kalahari-omgewing se kunstenaars, Pieter Pienaar, het nou sy tweede koffietafelboek,
Kalahari Kwashale en Sketse, die lig te laat sien.
In Aug 2012 begin hy sy internasionale onderwysloopbaan toe hy in Jeddah, Saoedi-Arabië, as kunsonderwyser ‘n pos aanvaar het. Hierdie tyd in Jeddah was vir hom as visuele kunstenaar van onskatbare waarde, want dit het hom moontlikhede gebied om ander kulture te leer ken en ook om daar uit te stal. Hy het a.g.v. hierdie oorvloed van indrukke sy eerste boek geskryf, ‘n self-publikasie wat sy belewenisse in Jeddah saamgevat het: Shukran vir die Kunsoorlog in Sandland. Dit het in 2017 die lig gesien. ‘n Koffietafelboek, wat al sy kunswerke wat hy gedurende sy verblyf in Jeddah geskep het, ten toonstel is in 2000 gepubliseer onder die titel: Journey with Jeddah. Hierdie boek is toe ook in Arabies vertaal in Sharjah.
In 2021 het hy by Hotazel Kollege begin skoolhou, waar hy o.a. Visuele Kuns tot Graad 12 aangebied het. Gedurende hierdie tyd het hy vele curio-items geskep om die Kalahari as streek te bemark. Hy het ook besef die tyd het aangebreek om nog ‘n koffietafelboek die lig te laat sien: Kalahari Kwashale en Sketse. Hierdie boek bevat al die kunswerke wat hy oor die verloop van 40 jaar op sy eiesoortige en eksperimentele manier as Kalahari-boorling geskep het. Die boek probeer vir kunsliefhebbers op boeretrant insig gee in die Kalahari-omgewing en hoe die werke geskep is. As jy van kunstegnieke hou, behoort jy hierdie boek te geniet, want Pieter verduidelik hoe hy dit gemaak het.
Om hierdie boek saam te stel was glad nie ‘n maklike taak nie, want die eerste publikasie moes gestaak word omdat sekere “uitleg-prosedures” nie gevolg was deur sekere partye nie; dié boek moes toe oorgedoen word volgens die industrie-riglyne deur die gesoute grafiese ontwerper, Wim Rheeder, onder leiding van Gail Robbins van Porcupine Press. Die eerste oplaag van vyf boeke gaan eersdaags in die Kaap, by CastleGraphics gedruk word. Hierdie publikasie is, soos al Pieter se ander boeke, ook ‘n self-publikasie. Die bemarking en verspreiding van die boek is nog aspekte waaraan aandag gegee moet word, want die drukkostes is hoog. Die boek sal verkoop vir R450 en bevat omtrent 175 kleurbladsye. Die boek behoort iets spesiaals vir hotelle en gastehuise te wees, as hulle die Kalahari wil bemark.
Een van Pieter se beweegredes vir die publikasie van hierdie boek is – om soos ander individue en kunstenaars – te bou aan die kultuurskat van die grote (en soms vergete) Noord-Kaap; daar is geen kunsgalerye wat ordentlike uitstalplek vir kunstenaars in dié plattelandse streek bied nie en die stand van die ekonomie maak dit ook moeilik; ‘n publikasie gee darem op papier uitstalgeleentheid aan skeppings en idees.
Pieter is in 1964 in Kuruman gebore en het in 1983 gematrikuleer aan Hoërskool Diamantveld, waar hy destyds kuns as matriekvak kon neem. Sy kunsonderwyseres was die bekwame realis, Carine Marais. In 1990, begin hy sy onderwysloopbaan, in Worcester, as Engelse onderwyser. Hy het vir ‘n wyle die onderwys verlaat en ander be-langstellings ondersoek. In 1998 stap hy weer die klaskamer binne as kunsonderwyser by Hatfield Christian School in Pretoria waar hy vir amper 15 jaar werksaam was. Hy studeer ook deeltyds verder aan die Universiteit van Pretoria en behaal sy doktorsgraad as opvoedkundige berader met die kunste as moontlik selfinsig-ontsluiters.
Aanhaling uit die boek: Die Ver in die ou Kalahari-lied som die gebied baie mooi op en dit vertel van die eindelose vlaktes en ook die eensaamheid, onder andere. Vir my as Kalahari-boorling, is dit ‘n plek van stilte, mooi sonsondergange, maar ook van eensaamheid of stroping, waar jy met jouself gekonfronteer word, want die Kalahari, soos dit nou daar uitsien in 2024, is natuurlik nie bekend vir sy hordes mense wat saamdrom om mensgemaakte wonders óf natuurwonders te geniet nie; daar is nie juis baie mense in dié plattelandse streek meer oor om gereeld mee te sosialiseer nie, want behalwe die ontvolking van die platteland wat ‘n gegewe is, is die plase hier ver uit mekaar en die petrolprys laat mens ook twee maal dink voor daar gery word.