Pik Botha oorlede

Posted in Latest News

RUSTENBURG HERALD – RUSTENBURG – Pik Botha – ongetwyfeld een van die langsdienende kabinetsministers in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse politiek, is vroeg Vrydagoggend na ‘n lang siekbed in die ouderdom van 86 jaar by sy huis oorlede.

Mnr Botha se afsterwe is Vrydagoggend deur sy oudste seun – die bekende rockmusikant, Piet Botha (ook Roelof) aan die media bevestig. Wyle mnr Botha is in September vanjaar in die hospitaal opgeneem. Botha was vir dekades ‘n gevierde en gerespekteerde minister “belas met die portefeulje” buitelandse sake. Hy het hierdie taak met onderskeiding vervul en in tye wat die Suid-Afrikaanse Nasionale Party-regering voortdurend onder hewige kritiek deurgeloop het weens apartheid, is wyle mnr Botha gereeld lof van sy buitelandse eweknieë asook sommige staatshoofde toegeswaai. Botha is in April 1932 gebore en was maar ‘n skrale 20 jaar oud toe hy in die departement van buitelandse sake begin werk het. Hy is in April 1977 as minister van buitelandse sake aangestel. Hy het in ‘n stadium ook as minister van energiesake gedien. Hy het die Suid-Afrikaanse politieke toneel in 1996 vaarwel toegeroep.