• banner
  • IOPSA Banner2
  • IOPSA Banner3
  • IOPSA Banner4
  • IOPSA Banner5

    Kerriefrikkadelle soos ouma dit gemaak het

    Posted in Beef Recipes

    Of jy nou daarmee grootgeword het (soos ek) of nie - maar vandeesweek maak ons regte smulkos! Dit is darem maar snaaks hoe 'n kind se kop soms werk? Ek onthou goed toe ek nog 'n jong laerskoolseun in ons huis was. Ek was die jongste "spruit" in die huis en natuurlik het my mening of opinie die minste saakgemaak. Ai - ek onthou goed, as 'n opgeskote knaap was ek glad nie lief vir vleis nie - ek kon dus nooit die hele gedoente rondom braaivleis kleinkry nie. Ja, van die aartappelslaai het ek baie gehou. Ook van die braaibroodjies, maar nee, net 'n baie klein stukkie vleis asseblief! 
    (In min of meer dieselfde tyd, het ek ook geleer om "groot agting" vir 'n tante van my se sjokoladekoek te hê. My moeder het selde koek gebak want pa was 'n "suurknol" wat nie veel ooghare vir soetgoed gehad het nie. So, tante So-en-So se gebak was vir my heerlik. Totdat my verstandtande op 'n goeie dag heeltemal uitgegroei was en ek 'n wonderlike ding soos kerriefrikkadelle raakgeloop het.

    My ouers het daarna geen moeite ondervind om my na 'n "braaivleis" toe te nooi nie en ek was baie bevoorreg om te weet dat al drie of vier kerriefrikkadelle op die eetkamertafel myne was! Vandag is dit steeds so - boontjiesop, kerriefrikadelle, sjokoladekoek (maar veral braaivleis) is groot in ons huis. Die afgelope naweek was ons sommer baie bly om oor 'n klompie heerlike, geurige kerriefrikkadelle nostalgies te raak. Ons het Edaleen Strydom van Rustenburg Herald se skoonseun - Nathaniel Smit en kleindogter Charniel gevra om ons te wys hoe hulle dit voorberei... 

    Bestanddele:

    9 snye growwe brood;
    1 liter kookwater;
    3 kg maalvleis
    4 eiers, geklits
    10 ml (2 t) fyn neutmuskaat
    7.5 ml (½ e) fyn naeltjies
    7.5 ml (½ e) peper
    45 ml (3 e) sout of na smaak
    koekmeelblom

    Sous
    125 g vet of botter
    10 groot uie in ringe gesny
    250 ml (1 k) koekmeelblom
    125 (½ k) suiker
    15 ml (1 e) sout
    60 ml (4 e) matige kerriepoeier
    30 ml (2 e) borrie
    500 ml (2 k) bruin wynasyn
    400 g appelkooskonfyt
    1.25 l (5 koppies) warm water
    12 piesangs

    Metode:
    Voorverhit die oond tot 190°C. Berei die frikkadelle so: Week brood in kookwater. Meng al die bestanddele goed. Maak frikkadelle (60 tot 70) en rol elkeen in koekmeelblom. Pak frikkadelle los in gesmeerde bakskottels. Maak nou die sous: Verhit vet in 'n groot kastrol en smoor uieringe liggies daarin. Meng koekmeelblom, suiker, sout, kerriepoeier, borrie en asyn. Meng konfyt eers met 500 ml (2 k) van die warm water en voeg dan alles by die uie, behalwe die piesangs. Laat dit goed deurkook. Sny piesangs in skyfies en rangskik op frikkadelle. Giet kerriesous bo-oor en bak vir 90 minute lank. Genoeg vir 30 tot 50 mense. 
    Wenk: Die frikkadelle kan vooraf gemaak en die volgende dag weer voor gebruik in die oond opgewarm word. 

    Lunel se kaas- en beesfilet-gevulde ‘baguette’- ‘n burger in ‘n klas van sy eie

    Posted in Beef Recipes

    Daar is ‘n episode van die gewilde Amerikaanse situasiekomedie (ook bekend as ‘n sitcom), ‘How I Met Your Mother’, waartydens die karakters van hierdie storie die hele New York deur reis op soek na wat beskryf word as die perfekte burger. Elke keer kry hul iets soortgelyks maar tog is daar net daardie besonderse burger wat bo die res uitstaan.
    Selfs in hierdie afdeling van die Rustenburg Herald is daar ook al in die verlede gesoek na die perfekte toebroodjie.
    Hierdie einste korrespondent het ook al ‘n soortgelyke gereg op die proef gestel en (tot onlangs) homself oortuig dat hy die beste burger in Rustenburg kan maak. Dit is, totdat hy hierdie week se resep geproe het – ‘n toebroodjie soos min, ‘n burger in ‘n klas van sy eie!
    Hierdie week het Lunel Klopper saam met Sarah en die res van die Melkstalpersoneel vir die Rustenburg Herald ‘n besonderse lekker kaas- en beesfilet-gevulde “baguette” voorberei. Hierdie gourmet-toebroodjie is nie net ‘n toebroodjie in ‘n hele ander klas nie maar dit is gewaarborg om ‘n “hit” te wees of jy dit nou vir jou familie voorberei of vir jou gaste.
    Dit is beslis die tipe burger wat smaak na nog!

    Bestanddele:
    10ml olyfolie
    Knippie sout
    ‘n Mildelike “knars” van swartpeper
    1 helfte van ‘n Franse “baguette”-brood
    125ml gemengde soetrissies, in repies gesny
    1 teelepel vars gekneusde knoffel
    1 helfte van ‘n ui, in blokkies gesny
    120g beesfilet-repies
    3 eetlepels BBQ-sous
    3 eetlepels Cheddar- en Mozzarella-kaas, gerasper
    125ml gaar sampioene, in repies gesny
    5ml “veggie spice”-speserye

    Metode:
    In ‘n braaipan, roerbraai die beesfilet-repies in 5ml olyfolie tot dit ligbruin is of na jou smaak, maar wees versigtig om nie die vleis te brand nie! Strooi die sout en swartpeper oor die vleis en skep dit in ‘n kleinbordjie. Voeg die BBQ-sous by en roer goed.
    In ‘n aparte pan, roerbraai die oorblywende olyfolie, soetrissies, uie en knoffel tot sag maar ferm en voeg dan die sampioene by. Roerbraai totdat die sampioene sag is en voeg dan die “veggie spice” by (alternatiewelik gebruik sout en peper). Plaas bestanddele eenkant.
    Sny die brood in die helfte en dan in die lengte af sodat jy vier kwarte het. Smeer die binnekant botter en rooster die brood tot ligbruin.
    Verdeel die soetrissies, uie, knoffel en sampioene tussen die brode op ‘n bord wat in die mikrogolf kan pas. Voeg die beesfilet-repies bo-op en dan die kaas. Mikrogolf die broodjies op hoë hitte tot kaas gesmelt is. Haal die broodjies uit (wees versigtig vir brand!) en plaas die ander kwart bo-op om ‘n toebroodjie te vorm. Gebruik tandestokkies om die broodjies in plek te hou. Bedien met vars gebraaide aartappelsyfies.

    Alma se Griekse Moussaka

    Posted in Beef Recipes

    Eiervrug is beslis nie my gunsteling nie – maar wanneer dit vermom word as ‘n mengsel tussen lasagne en ‘n aartappelbak dan sê ek nie nee nie. En ek kry die idee ons lesers sal hierdie week met my saamstem wanneer hul Alma se Griekse Moussaka op die proef stel.

    Wees gewaarsku: hierdie tradisionele Griekse gereg bevat bietjie werk en soos Alma van die Rustenburg Herald verduidelik weet jy jou bestanddele is reg wanneer die moussaka se reuk jou hele kombuis oorneem. Maar dit is als die moeite werd op die einde van die dag en min dinge gaan so lekker saam soos ‘n Griekse gereg en ‘n lekker glasie rooiwyn.

    Bestanddele:

    5 eetlepels olyfolie
    3 knoffelhuisies
    2 uie, fyngekap
    2 blikkies gekapte Italiaanse tematies
    2 eetlepels tamatiepuree
    500g lamsmaalvleis (of beesmaalvleis)
    1 glas droë rooiwyn
    2 tot 3 eetlepels vars oreganum, gekap
    1 teelepel kaneel
    1 teelepel wonderpeper (allspice)
    3 eiervrugte, dun in lengte gesny
    2 groot half gekookte aartappels, geskil en dun gesny
    Sout en swartpeper
    75g botter
    75g meel
    600ml melk
    60g parmesaankaas, gerasper
    2 eiergele
    ‘n Knyp neutmuskaat

    Metode:

    In ‘n groot pan kook die knoffel en eie in 2 teelepels olyfolie tot sag. In ‘n ander pan, verhit 1 teelepel olyfolie en roerbraai die mins daarin tot bruin.
    Meng die mins by die uie en knoffel. Voeg die wyn, puree, tamaties, oreganum, wonderpeper en kaneel by en laat vir 1 uur prut terwyl jy af en toe roer.
    Voorverhit jou oond na 190°C. Roerbraai die eiervrugte en aartappels in olyfolie tot bruin aan albei kante.
    Berei die witsous voor: smelt die botter in ‘n pan en voeg meel by terwyl jy die mengsel roer om ‘n pasta te vorm. Roer die melk by en bring dit tot kookpunt terwyl jy dit roer. Prut vir 10 minute. Haal die sous van die hitte af en voeg die eiers, parmesaankaas en neutmuskaat by.
    Plaas nou ‘n laag eiervrug en aartappel onder in ‘n oondvaste bak, gevolg deur ‘n laag mins en dan ‘n laag eiervrug en aartappel, die res van die mins en ‘n finale laag eiervrug en aartappel. Voeg die witsous oor die dis en bak die moussaka ontbloot vir 30 minute. Laat dit vir 10 tot 15 minute staan en bedien saam ‘n Griekse slaai.

    Kerrievleis en Pitabroodgereg

    Posted in Beef Recipes


    Met die betreklik goeie verteenwoordiging van die Indiër-gemeenskap in Suid-Afrika en in besonder ook Rustenburg, het verskeie tradisionele Indiërgeregte deur die jare 'n gunsteling onder alle Suid-Afrikaners geword. Dit is vir niemand meer nuus dat die lof van kerrie, borrie en ander "warm goed" uit die Indiër-kultuur sommer baie gereeld in kos- en kookprogramme op televisie en radio besing word nie. Wat is nou lekkerder as kerrie-en-rys as die windjie daar buite geniepsig is en 'n mens se maag hongerpyne kry?

    Maxine van Aswagen en manlief Jan is altwee lief vir kerriegeregte en dié maklike een wat ons vandeesweek voorsit, is een van hul gunstelinge. Ons noem dit sommer Maxine se Kerrievleis- en Pitabroodjieresep... Dit is so maklik soos val uit 'n boom uit en word soos volg gemaak:

    Maxine se kerrievleis en pitabroodjieresep
    O herrie, dis kerrie!

    Bestanddele:

    500 g biefstuk in repies gesny
    1 groenrissie in stukkies gesny
    een medium ui in stukkies gesny
    'n paar mooi sampioene in stukkies gesny
    2 teelepels knoffel
    2 groterige teelepels kerriepoeier (na smaak)
    250 ml vars room
    1 pitabroodjie (by jou kruidenier)

    Metode:

    Braai die biefstukrepies lekker gaar en sag in botter. Voeg die groenrissie, uie, sampioene en knoffel by en braai tot redelik gaar en sag. Voeg nou die 250 ml room by en roer goed deur. As jou room goed deurgemeng is, kan jy die kerriepoeier byvoeg. Maxine sit ook ongeveer twee eetlepels suiker by om die Kerrie 'n effe soeterige smakie te gee en die brandsmakie 'n bietjie "vriendeliker" te maak...

    Pitabroodjie

    Voorverhit jou oond tot 180°C. Besprinkel jou Pitabroodjie met 'n paar "vingers" koue water en plaas in die oond vir sowat 4 tot 6 minute. Haal uit die oond en bedien jou biefstukrepies en mengsel saam met 'n stukkie pitabrood. Al te lekker vir 'n vinnige ontbyt of dalk 'n warm happie op koue wintersaande voordat jy in 'n lekker warm bed gaan kruip.

    Frikkadelle wat jou ver laat terugdink…

    Posted in Beef Recipes

    Is dit nie snaaks dat 'n mens (of is dit net ek?) geneig is om sekere kosse en/of disse met 'n sekere klimaat of seisoen te assosieer nie? Dink maar aan kerrie of sop wat 'n mens (glo) net in die wintermaande eet... En pannekoek wat 'n mens feitlik sonder uitsondering bak wanneer dit nou al vir 'n paar dae aanmekaar reën. In die warm somersmaande is 'n mens tog maar geneig om ligter/koeler etes te maak sodat 'n mens nie nog warmer kry as die kwik hier in Rustenburg na die 40°C mik nie. En ja, dit lyk of ons nou weer na daardie rigting mik.

    Maar snaaks genoeg, as daar nou 'n gereg is wat 'n mens enige tyd van die dag, enige tyd van die jaar met groot sukses kan voorsit, is dit frikkadelle, (ja, ons weet biltong ook man...). Frikkadelle laat my met 'n tipe van mymering aan my kinderjare dink toe ma die lekkerste frikkadelle, gekookte eiers en heerlikste broodjies ingepak het wanneer ons as familie in die motor gespring het om vir die familie in die ou Transvaal te gaan kuier. Daardie jare het ons nog in Namibië gewoon en vir 'n gesin van vier het die langpad Transvaal sommer 'n stewige "kosblik" beteken. Een keer lank gelede in die middel van die nag, in die middel van die Kalahari het ma (terwyl pa 'n uiltjie geknip het) die Volksie omgegooi. Daar sit ons vier toe in die donker nag in die Kalahari se steeds warm sand ons padkos en opeet en koue koffie drink terwyl ons kyk of die Volla met sy wiele in die lug (en ons tasse steeds binne-in) aan die brand gaan slaan. Toe ons sien dat dit veilig is, staan ons almal kromrug, gooi die Volla weer op sy "voete" en daar ry ons verder met slegs 'n paar skaafplekke en skrape aan die arms en bene. So 'n klompie ure later was ons by ouma en oupa op die plaas... As ek frikkadelle eet, sien ek nou nog hoe ons in die sand sit en frikkadelle en broodjies eet...

    Nouja, in hierdie week se uitgawe van "Raak die 'klits' kwyt" maak Cecile vir ons die heerlikste frikkadelle - die resep kom van 'n goeie vriendin wat dit jare gelede by haar ma gekry het.
    Probeer gerus hierdie resep as jy of die familie lief is vir frikkadelle. Hierdie resep is werklik van die lekkerste wat ons nog teëgekom het.

    Cecile maak dit so:

    Bestanddele:

    1 kg maalvleis
    1 blikkie tamatie en uie
    3 of 4 gerasperde wortels
    'n halfwe koppie hawermout
    sout en peper na smaak
    Basiliekruid en roosmaryn na smaak
    'n knippie Barbeque-speserye na smaak
    2 eetlepels Balls-blatjang
    'n eetlepel Worcestershire-sous

    Metode:

    Meng bogenoemde alles saam, rol balletjies en laat staan vir 'n wyle.
    Jou frikkadelle word in 'n spesiale sous gekook. Jy maak die sous deur eerstens die tamatie en uie in 'n kastrol op die stoof te gooi. Meng 'n eetlepel Bisto en 2 eetlepels koekmeel met 'n koppie water.
    Gooi 'n ekstra halfkoppie water in die kastrol, wanneer die kastrol se inhoud begin kook, gooi jy die Bisto/Koekmeelmengsel bietjie-vir-bietjie by en plaas die frikadelle in die kastrol.
    Maak die deksel toe, en kook op stadige hitte vir nagenoeg 40 minute.
    Bedien met boontjies, pampoen, rys of soortgelyk.

    search our recipes