• banner
  • IOPSA Banner2
  • IOPSA Banner3
  • IOPSA Banner4
  • IOPSA Banner5

    Die nostalgie van kersfeeskos

    Posted in Festive Food

    Baie van ons se herinneringe aan kersfees is in die kos wat op die tafel was, geanker. My kersfees-onthou is van snikhete karoodae met yskoue waatlemoen, regte-egte tuisgemaakte gemmerbier, koue skaapboudsnye en gestolde wortelslaai. Buite op die stoep was tafels mooi gedek en op die gras het ons kinders deur die spreier gehardloop en mekaar met waatlemoenskille gesmeer. Daar was baie gelag en gesels en gespeel en die geskenke onder die boom was bykans ‘n bysaak – die kuier saam met ooms en tannies en broers en susters was die hoofdoel van Desember. Deesdae is dinge nie meer so ongekompliseerd nie. Daar is soveel vereistes en verwagtinge dat die feesgety ‘n amperse mynveld geword het. Maar met dié week se kook deur Hedgehog’s Nest se Sjef Pieter Germishuys bring ons ‘n tikkie van kersfees soos dit móét wees terug – met lekker kos wat saamwees ‘n fees sal maak. In die meegaande video verduidelik Sjef Pieter hoe al die geregte wat op die bladsy vertoon word, voorberei word. Ons deel egter hier die resep vir die heerlike ‘ Coronation’-hoender, soos gemaak deur Hedgehog’s Nest Culinary Institute eerstejaarstudent, Marnus van Dyk.

    Bestanddele:

    6 x hoenderborsies, gekook saam met pietersielie, tiemie, loerierblare, peperkorrels en wortels
    1 groot ui
    35 ml kerriepoeier
    Knippie koljander
    Knippie mosterd
    Knippie borrie
    Tamatiepasta
    50 ml Mango chutney
    75 ml rooiwyn
    75 ml water
    20 ml suurlemoensap
    125 ml mayonnaise
    50 ml appelkoospuree
    125 ml ongegeurde jogurt
    1 eetl pitlose rosyntjies
    2 eetl gesnipperde droë appelkose

    Metode:

    Kook die hoenderborsies saam met die pietersielie, tiemie, loerierblare, peperkorrels en wortels tot gaar. Wees versigtig om dit nie té gaar te maak nie. Laat dit in die vloeistof afkoel voor jy dit vlok.
    Sny ui in blokkies en braai baie liggies in botter. Roer die kerriepoeier in en daarna die res van die speserye, tamatiepuree, rooiwyn en water. Bring tot kookpunt en geur met sout, peper en suurlemoensap. Laat prut vir 10 minute. Wanneer afgekoel, roer die mayonnaise, appelkoospuree, mango churney en ongegeurde jogurt in.
    Bedien koud en garneer na keuse.

    Platters

    Posted in Festive Food

    In die gejaagde wêreld waarin ons vandag leef, maak dit tog net sin dat groot etes by kleiner, minder formele gesellighede by die dag besig is om ‘n skaarser gewoonte te word en dat benewens die tyd- en koste-faktor – dit seker maar goed is om net ‘n vinnig happie of wat te eet wanneer ‘n mens eintlik meestal met werk of ander belangstellings besig is.

    In elk geval, vir die meeste mense is daar nie ‘n verskoning nodig om liewer die groot, swaarder borde kos vir ‘n verandering opsy te skuif en wanneer die geleentheid reg is en jy dalk ook met ‘n heerlike glasie wyn in die hand staan, aan ‘n “platter” met ‘n lekker groot wye verskydenheid “lekkernye” te peusel nie.

    Ons het al by ‘n geleentheid vroeër vir ons lesers ‘n platter voorgesit maar so met die nuus dat Clover (ja, die kaasmakers van faam) nou ook ‘n verspreidingspunt in Rustenburg het, het ons met Chantel Muller van Clover Rustenburg gekonkel om vir ons ‘n lekker “kaas-platter” voor te berei. (Terloops – meer besonderhede oor Clover se nuwe verspreidingstak in Rustenburg sal binnekort in die Herald verskyn – hou ons dop!)

    Chantel maak vir ons ‘n skinkbord met ‘n heerlike paar vingerhappies waarin kaas natuurlik ‘n belangrike rol speel. Een van die eerste happies op die “skinkbord” is pannekoekies:

    Pannekoekies:
    Bestanddele
    250ml bruismeel;
    1 eier;
    2 teelepels olie;
    500 ml water;
    250 ml Clover room;
    Knippie sout en peper;
    1 pakkie swartpepersous.

    Metode:
    Klits al die pannekoekbestanddele saam. – bruismeel, knippie sout, eier, olie en water. Bak die pannekoekies. Laat afkoel. Gooi room in kastrol en verhit totdat dit redelik warm is. NB – NIE kook nie! Voeg die pakkie kitssous by en klits met “ballonklitser” om klonte te voorkom todat sous egalig begin verdik. Haal van stoof af en laat afkoel. Neem pannekoek en smeer die sous egalig oor. Strooi gerasperde kaas bo-oor. Rol die pannekoek op en sny in 5cm-ringetjes. Rangskik saam met ander bestanddele op platter.

    Worsies
    Bestanddele  
    10 Cheese grillers (worsies);
    1 pakkie Streaky bacon;
    Tandestokkies;
    Kookolie vir diepbraai.

    Metode
    Sny elke kaarsworsie middeldeur. Sny stukkies streaky bacon in helfte. Draai helfte van die bacon om elke halwe worsie. Steek met tandestokkie vas. Bring olie tot kookpunt. Diepbraai elke worsie. Haal uit olie en laat afkoel – voeg by platter.

    Roosterbroodjies
    Bestanddele
    10 snytjies wit brood. 451 g gegeurde roomkaas;
    200 g fyn-gekerfde biltong;
    Optioneel: Sweet chillie of blatjang;

    Metode;
    Maak 10 snye roosterbroodjies; Laat afkoel. Sny geroosterde broodjie in 3 langwerpige repe. Smeer elke repie met gegeurde roomkaas. Gooi gekerde biltong bo-oor. ‘n Sousie byvoorbeeld blatjang of pepersous kan oor die broodjie gegooi word. Voeg by platter.

    Peppadews
    Bestanddele
    400 g botteltjie mild soet heel pitlose peppadews;
    100 g gerasperde Mozarella-kaas;
    100 g gegeurde roomkaas;
    Kookolie vir diepbraai;
    1 eier;
    Knippie sout en peper;
    100 g broodkrummels.

    Metode
    Meng gerasperde Mozarella en roomkaas. Vul die pitlose peppadews met vulsel. (Maak seker alle pitte is verwyder). Klits die eiers en voeg sout en peper by. Doop peppadews met vulsel in die eier. Rol in broodkrummels. Gooi olie in mediumkastrol en bring die olie tot kookpunt. Diepbraai peppadews met krummels tot ligbruin. Haal uit en plaas op servet om oormaat olie te absorbeer. Laat afkoel – voeg by platter.

    Nou kan jy jou platter met al sy bestanddele mooi netjies rangskik en ‘n oomblik laat “rus” voordat jy dit bedien – bon appétit!

    Heerlike, prettige “dierekos” by Duimpie Den

    Posted in Festive Food

    Wel, dit is September en die lente is hier - dit is moeilik om te glo dat die winter vanjaar so kort was, maar hier in Rustenburg is ons mos nie ondankbaar nie? Vandeesweek bied ons in die “Raak die ‘klits’ kwyt” iets soos ‘n kinderreseppie wat uitstekend werk vir veral kinderpartytjies en met die warmer maande wat nou aangebreek het, kan ‘n mens dié soort partytjie sommer buite in die tuin aanbied sodat die kleingoed nie jou huis bemors nie.

    Die idee kom van juffrou Retha Nel van Duimpie Den Kleuterskool - Retha en haar spannetjies is al goed bekend vir die eetbare diertjies wat met bak-en-brou-dae opgedis word. So ontwikkel die kleingoed van kleins af ‘n gevoel vir kosmaak, die verjaarsdagmaatjies het ‘n klomp pret terwyl hulle op ‘n “konstruktiewe” manier besig gehou word en terselfdertyd maak die maatjies boonop elkeen hul eie kos!

    Vir ons “kooksessie” het Retha die maatjies in vier groepies gedeel - jy kan ook so maak met die kleuterpartytjie - byvoorbeeld die Groen groep (ystervarkies), Blou groep (eendjies), Rooi groep (worshondjies) en Geel groep (skoenlappertjies).
    Die dierekossies maak jy soos volg:

    Ystervarkies
    1 kort, dik broodrolletjie per kind. Klein blokkies wortels, kersietamaties, Marmite, botter en roomkas gemeng en gevulde olywe.
    Smeer Marmite-bottermengsel oor rolletjies, Pak wortelblokkies oor ystervarkie se lyfie om “ystervarkpenne” te vorm. Plaas twee skywe olywe vir ogies en kersietamaties vir sy snoetjie.

    Worshondjies
    1 Weense worsie per maatjie, kersietamatie, wortelstokkie, 4 blokkies kaas per kind, tandestrokkies.
    Gebruik die worsies as lyfies en steek ‘n kersietamatie bo-op aan die voorpunt van elkeen vas met ‘n stukkie tandestokkie. Steek tandestokkies deur die kaasblokkies en steek in die lyfies om bene te vorm.

    Eendjies
    Halwe hardgekookte eier per maatjie, Mayonnaise, Simba-skyfies, Rosyntjies vir ogies, roomkaas, sout en peper na smaak en kaaskrulle.

    Sny eiers in lengte deur en verwyder eiergele versigtig. Maak eiergele fyn met roomkas, Mayonnaise en sout en peper. Plaas die mengsel in ‘n versierbuis met sterpunt en druk uit in eierwitte. Druk twee aartappelskyfies aan weerskante in om “vlerke” te vorm en kaaskrul om nek en kop te vorm. “Plak gesniperte rosyntjies met vulsel vas vir ogies.

    Skoenlappertjies
    1 snytjie brood per kind. Gekleurde suuruitjies, gevulde olywe, wortelrepies, roomkaas, kaasvormpies, komkommer.
    Sny brood in 2 driehoeke en plaas punte teen mekaar met ‘n blokkie komkommer tussen-in. Dun komkommerrepies vir die voelertjies. Smeer roomkaas op driehoekies en versier met uitjies, kaasrepies en olywe om ‘n mooi simmetriese skoenlappertjie te vorm.

    Van “diertjies” gepraat - die aap is sedert onlangs uit die mou dat juffrou Retha Duimpie Den binnekort gaan verlaat om ‘n vinnige blaaskansie te neem voordat sy gaan konsentreer op ‘n paar ander sakies wat haar aandag vereis. Die Duimpie Denners en ouergemeenskap sal haar beslis mis - sy word alle sterkte en baie voorspoed toegewens!

    Mev Rustenburg se Elsa en Melissa maak regte vakansiekos...

    Posted in Festive Food

    Nouja mense, die ouens wat nie vandeesweek met vakansie is nie, het seker nie ‘n “werk” nie - of met apologie aan al ons ywerige tuisteskeppers en natuurlik die mense wat inderdaad ‘n werk het, maar nie so gelukkig soos derduisende ander Suid-Afrikaners is as om die volgende klompie dae - veral die spesiale feesdae - te midde van ‘n heerlike vakansiestemming, te ontspan nie. Aan diégene gee ons graag ‘n bietjie erkenning en aanmoediging deur te sê - “sommige mense moet seker maar werk om te sorg dat die land darem aan die gang bly...?” Sterkte dus aan dié manne en vroue wat in hierdie wonderlike vakansieseisoen vroeg opstaan of laat gaan lê om die ratte van die nywerheid ge-olie en aan die rol te hou... Maar vir die res van ons - wel ja, - dit is vakansietyd en dit is nou nie altemit nie, soos die oumense gesê het...

    Maar vroue oor die algemeen sal sekerlik van die eerstes wees om te sê dat ‘n vrou se werk nooit regtig heeltmal ophou nie. In die vakansieseisoen is dit eintlik maar net die manne en die kinders wat nou ook by die huis is en as’t ware eintlik onder die vroue se voete is terwyl ma haar met elke dag se take besig hou. Wie anders as ma gaan dan nou in die vakansieseisoen die kleingoed se beddens opmaak, toesien dat hulle magies vol ontbytpap is of seker maak dat die regte vleis vir vanmiddag of vanaand se braai uitgehaal word - ons hoop nou nie daar is manne wat hierdie tyd van die jaar ook verwag dat die vroue in die kombuis moet regstaan nie - dit geld natuurlik darem nie vir die arme ouens wat te midde van hierdie feesatmosfeer moet gaan werk nie...

    Maar vir die vroue wie se manne dalk by die werk is en wat in hierdie feesgety nou nie werklik geroepe voel om met ‘n uithalers-spyskaat vorendag te kom nie, klop ons vandeesweek aan by Elsa Doubell en Melissa Louw - twee dames wat hulle stemme behoorlik dik gemaak het in die pas-afgelope Mev Rustenburg-kompetisie. Melissa is uiteindelik as Mev Rustenburg gekroon terwyl Elsa as “people’s choice” aangewys is.

    Rustenburg Herald se “kookspan” het verlede week by die twee ingeloer waar hulle vir ons sommer vinnige maar baie lekker kitskos vir die jongklomp of die lekkerbekke aangeslaan het - regte vakansiekos en vir die gesondheidsbewustes onder ons ja - daar is darem ook ‘n paar stukkies rou wortel, pynappel, ‘n stukkie kaas en ‘n skyfie tamatie ingesluit om seker te maak dat ons darem ‘n titseltjie groente in ons bordjie het.

    Die res is ongelukkig (of moet ons sê gelukkig?) pure “hamburger” en selfs nog lekkerder as wat ons verwag het. Melissa en Elsa beveel aan dat jy die “hamburger” met ‘n Pietabroodjie of ‘n gewone “Wrap” maak om dit so ‘n klein bietjie meer oorspronklik te maak. As jy nou regtig nie een van dié twee op die winkelrakke kry nie, kan jy maar vir ‘n gewone hamburger-broodjie gaan - dit is tog eintlik maar die vulsel wat werklik belangrik is... Vir die spesiale vakansieseisoen dus, maak jy jou Pieta-, Wrap- of gewone hamburger soos volg:

    Bestanddele
    Egte maalvleis-”patty”, 
    Kaas,
    Pynappelringe
    Tamatieskyfies,
    “Wrap”, Pietabroodjie of gewone ronde broodrolletjie;
    Blaarslaai.

    Metode
    Maak patty gaar in lekker olyfolie. Pak eers blaarslaai, dan lekker vars tamatie, dan ‘n volle pynappelring, dan “patty” gevolg deur die kaas bo-op die patty sodat die kaas ‘n bietjie kan smelt. Kies vir jou ‘n lekker sousie waarvan veral die jongklomp sal hou - spuit dit lekker vol sodat die kinders vir ‘n bietjie ekstra vakansiepret met ‘n lekker soussnor kan spog...

    Nagereg
    Vir nagereg (as dit nou regtig nodig is) het ons sommer op melkskommel besluit en vir die soettande malvalekkers met ‘n sjokoladesous wat kliphard gevries is. Steek ‘n paar malvalakkers deur ‘n sosatiestokkie, gooi romerige sjokoladiesous of karamel bo-oor, gooi “hundreds & thousands” (sprinkles) bo-oor en plaas in die vrieskas om te stol. Haal uit en bedien as jy seker is die kinders sal nie nog ‘n enkele hamburger in hul magies kry nie... Dankie Elsa en Melissa - ons kan getuig dat dit regtig heerlik is - vakansiekos op sy beste!

    ‘n Bosveld-poeding vir Kersfees

    Posted in Festive Food

    Wel mense, die jaar is op sy rug en vandag oor presies ‘n week is dit tyd vir Kersvader om sy swaar sak oor sy skouer te gooi en kinderharte regoor die wêreld te verbly. As jy en jou familie vanjaar moontlik die takbokke en slee in die stad gaan misloop en tussen die wildsbokke in die bosveld gaan ontspan, is hier net die regte Kersfeespoeding vir bosveldaande om die kampvuur. Dit is nou as die maaltye daar rondom die vuur nie meestal uit vleis, vleis en vleis bestaan nie. Gelukkig is daar darem altyd ‘n klompie vroue wat sal toesien dat die manne hulle nie aan die bosveldsteaks vergryp nie.

    Vandeesweek se Bosveldpoeding kom van Lezané van den Berg en dit is ‘n maklik een wat jy sommer so vinnig op die vuur aanslaan terwyl die koffiewater al kook. Baie gepas vir dié tipe vakansie, is die poeding hoegenaamd nie ingewikkeld nie en jy het skaars meer as ‘n blikkie ingelegte perskes, ‘n stukkie lekker sjokolade en ‘n pakkie lekkergoed nodig. Lezané maak haar bosveldpoeding soos volg:
    Bosveldpoeding op die kampvuur.

    Bestanddele
    1 blikkie ingelegte perskes en/of pere - ‘n groot blik as daar baie mense is; 
    ‘n Klompie Cadbury Flakes - of meer as jy baie gaste het;
    1 Pakkie regte malvalekkers - “marshmellows”
    ‘n Bekertjie lekker tuisgemaakte vla

    Metode
    Skeur langwerpige stukkies tinfoelie net groot genoeg om ‘n perske-helfte met ‘n malvalekker bo-op soos ‘n Kersfees-klapper toe te draai. Plaas nou ‘n perske-helfte in elke stukkie tinfoelie, sit ‘n malvalekker bo-op in die holte en breek jou Cadbury Flake in kleinerige stukkies en strooi mildelik oor die perske en malvalekker. Jy kan sommer ‘n paar stukkies gewone sjokolade ook byvoeg as jy lus het vir ‘n bietjie oordadigheid.

    Draai dan die pakkies soos ‘n kersfeesklapper mooi toe en plaas in ‘n groot pot of kastrol bo-op die kole wat darem nog taamlik warm moet wees. As jy nog ‘n mooi skoon rooster het, kan jy die kersfeesklappers sommer direk bo-op die rooster oor die kole sit. Onthou met tinfoelie - die blinkste kant kom binne anders gaan jy sukkel om die spulletjie mooi warm en veral aan die smelt te kry.

    Afhangende van hoe warm jou kole is, kan jy dit vir enigiets tussen 10 tot 20 minute op die kole los.

    As dit gereed is en die sjokolade het goed gesmelt is dit feestyd - haal af en laat elkeen vir hom ‘n “|klapper” uit die pot kies. Die beste van alles is dat jy nie eers poedingbakkies nodig het nie. Gee net vir elke gas ‘n lepeltjie - jy maak jou klapper oop en eet jou poedingkie sommer so uit die tinfoelie maar nie voordat jy ‘n ruim sopie vla oor die poeding gegooi het nie. Baie lekker en net so onopgesmuk soos ‘n mens in die bosveld sou doen!

    search our recipes