Hospitaal in Zama’s se visier

Posted in Latest News

Deur Salomé Kotzé

Klerksdorp Rekord, Orkney - Die nuus oor ‘n gewapende inval by Westvaal Hospitaal en ‘n gyselaarsdrama die afgelope naweek blyk toe eintlik maar ‘n storm in ‘n teekoppie te wees.

Dit het begin toe die LUR van Gesondheid in Noordwes, Madoda Sambatha in ‘n uitsending op die nuuskanaal Newzroom Afrika vroeg Saterdagaand 24 April gesê het die hospitaal is deur gewapende mans oorval. Hy het gesê daar was voorheen ook inbrake by die hospitaal. In die onderhoud waarin die nuusleser hom herhaaldelik gevra het wat die situasie by die hospitaal is, het hy herhalend gesê die polisie het nie veiligheid onder beheer nie en dat die ministerie van polisie betrek moet word. Hy het deurentyd verwys na zama-zamas en bendes wat amok saai in die gemeenskap. “Ek is baie bekommerd. Die Zama Zamas het meer mag as die polisie,’’ het hy gesê.

Die LUR het ook gesê dat die Oppenheimer Stadion aan die brand gesteek is.

Sy uitsprake is wyd en syd op sosiale media gedeel en inwoners van Orkney het dit Saterdagaand met mekaar op Whatsapp-groepe gedeel. Dit is alombekend dat die Zama-Zamas ‘n skrikbewind op Orkney voer en dat daar gereeld snags skietgevegte is tussen verskillende groepe Zama-Zamas, die sekuriteitswagte en die polisie.

‘n Video wat gedeel is van ‘n veldbrand naby die Oppenheimerstadion het mense laat glo die stadion se binnenshuise sportsentrum is besig om af te brand. ‘n Nuusspan van Overvaal Stereo het die hospitaal besoek en ook bevind dat daar nie ‘n gyselaarsdrama is nie.

Brigadier Sabatha Mokgwabone van die polisie in Noordwes het in reaksie hierop gesê dat dit nie die polisie se werk is om private eiendom op te pas nie. “Ons het verskillende oproepe gekry oor ‘n gewapende inval by die hospitaal maar met ons aankoms was daar nie so iets nie. Daar is gesê dat sowat 30 mense in die hospitaal se plafon wegkruip. Ons het dit deursoek, maar niemand is gekry nie.

“Dit was wel duidelik dat die perseel betree is, want ‘n hek aan die agterkant van die hospitaal was beskadig. ‘n Venster is ook in saal 9 en 10 gebreek. Nie een van die sale is tans in gebruik nie. Die plafon was gebreek en daar is gepeuter met ‘n koperpyp, elektriese bokse en ‘n suurstofpyp,’’ het hy gesê.

Hy het bevestig dat die hospitaalbestuur die volgende middag ‘n klagte by die polisiekantoor ingedien het. “Die publiek moet weet ons kan nie ‘n klagte ondersoek as die eienaar of bestuur nie ‘n klag by die polisie lê nie. Dit is ongelukkig so dat geboue wat in onbruik is of leeg staan die teiken van plunderaars sal wees, daarom is dit beter om sekuriteitsfirmas te kry om jou eiendom te beskerm, dit is nie die taak van die polisie nie,’’ het hy gesê.

Tebogo Lekgethwane van die departement van gesondheid het gesê hulle het intussen sekuriteit by die hospitaal opgeskerp. “Ons voel egter dat die polisie ons sekuriteit behulpsaam moet wees en by die hospitaal gestasioneer moet word aangesien die bendelede so swaar gewapen is. Ons is dankbaar dat die polisie die omgewing patrolleer en ook reeds arrestasies gemaak het,’’ het hy gesê.

Volgens Nico Masiu, woordvoerder van die Klerksdorp/Tshepong Hospitaalkompleks, is daar tans Covid-pasiente in die hospitaal, maar net twee sale (7 en 8) word gebruik. “Die pasiëntesorg is nie deur een van die inbrake beinvloed nie, maar dit is verstaanbaar dat pasiënte en personeel in vrees lewe. Veral aangesien die diewe gewapen is.”

DA-rdl Chris Bester het aan Klerksdorp Rekord gesê inwoners van Orkney lewe in vrees.

“Die afgelope naweek se gebeure, alhoewel heelwat oordryf, maak mense bang dat die polisie nie beheer oor kriminele elemente en veral die Zama-Zamas het nie. Ons beplan ‘n vreedsame optog na die polisiestasie volgende week om as gemeenskap ons griewe te lug.”

Klerksdorp Rekord het laat Maandagmiddag 26 April met ‘n sekuriteitswag by die Oppenheimer Stadion gepraat voordat hy sy pos vir die dag sou verlaat. Daar is net een man bedags aan diens om die plek op te pas. Snags is daar niemand. Die omgewing rondom die stadion lyk steeds geplunder soos ons ‘n paar weke terug berig het, maar al die strukture staan steeds en niks het afgebrand nie. Die veld lyk of dit wel een of ander tyd gebrand het.

UA-34805051-1 UA-34805051-1