Sakeman kritiek na fratsongeluk

Posted in Latest News

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die eienaar van Klerksdorp Engineering is in ‘n kritieke toestand in ‘n Johannesburgse hospitaal na ‘n fratsongeluk by die onderneming in Klerkindustria verlede week. Gideon Crouwcamp (43) was besig in die aanleg op Vrydag 16 Julie toe ‘n stuk staal wat onder erge druk was, los breek en hom in die gesig tref.

Volgens ‘n werknemer, Jacques van Niekerk, het hy met die ernstig beseerde Crouwcamp na die Life Anncron Hospitaal gejaag, waar hy gestabiliseer is.

“Hy is toe per helikopter na Milpark Hospitaal in Johannesburg gevlieg met erge gesigfrakture, bloeding op die brein en sy oogbank is vergruis,” vertel Van Niekerk.

Volgens hom was dit “nie ‘n mooi prentjie” om sy werkgewer so te sien nie. Crouwkamp is ‘n bekende in Klerksdorpse motorkringe en ‘n gereelde deelnemer aan die hotrods. Nadat die nuus van die ongeluk bekend geword het, het dit soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei en ‘n gebedsketting tot so ver as Namibië is vir hom begin.

Gideon se vrou, Celeste is hoopvol vir sy volle herstel en het gesê haar man is onder verdowing. “Hy reageer as daar met hom gepraat word en die inligting wat ons van die hospitaal kry, is hoopvol.

“Hy is steeds kritiek en het baie seergekry. Baie mense bid vir hom en almal se gebede hou my staande. Ons glo dat hy sal herstel,” het sy aan Klerksdorp Rekord gesê.

Laatmiddag op Dinsdag 20 Julie het sy laat weet hy het geen swelling op die brein nie en bloeding wat daar is, sal wel opklaar. “Die neurochirurg het my gebel en gesê hy reageer goed en wys geen teken van breinskade. Ons dien ‘n groot Jesus.”

Die egpaar het twee jong kinders. Sake by Klerksdorp Engineering gaan aan soos normaal.

UA-34805051-1 UA-34805051-1