Korruptes gaan gou aan pen ry

Posted in Letters

Rdl Tonie Meiring, via e-pos - Uiteindelik is dit nou duidelik waarom die munisipale bates en kontantreserwes gestroop is en daar niks gedoen was om dit te verhoed nie.

In die raadsvergadering van 27 Junie is bevestig dat daar geen verdere betalings van sowat R1,5m per maand gemaak sal word aan ‘n maatskappy wat veeldoelige kopieërmasjiene voorsien totdat alle masjiene geïnstalleer en in werkende toestand is nie.

Op ‘n stadium was die swak diens van so ‘n aard dat die administrasie nie na behore kon funksioneer nie. Die agtergrond: Irasa het ‘n skrywe aan die die destydse Administrateur, Seth Ramagaga, gerig dat grootskaalse korrupsie en bedrog in die toeken van die tender vir 3 jaar  plaasgevind het. Die saak is na die Valke verwys onder nommer MAS24/02/2017 en is in ‘n finale stadium van ondersoek.

Daarna is daar weer ‘n verdere tender van 3jaar aan dieselfde maatskappy toegeken sonder dat die hangende saak in aanmerking geneem was. In die genoemde raadsvergadering is IRASA deur Rdl Johannes le Grange van die DA daarvan beskuldig dat dit net bewerings is.

In soortgelyke sake, met saakverwysings beskikbaar, wat ook in ‘n gevorderde stadium van ondersoek is, was dit ook deur Rdl le Grange as sulks afgemaak. So, die DA het nog al die tyd die bedrieërs en stropers op die manier beskerm.

Daar moet onthou word dat daar ‘n staatstruktuur in wording is wat die munisipale sake kom ondersoek en IRASA sal daar wees om die soort van verwerplike en beskermende optrede van raadslede voor te lê. IRASA is reeds deur kennisse in die testigte staatsorgaan versoek om die verdoemende inligting van korrupsie en bedrog, wat sedert 2009 versamel is, te ontleed en beskikbaar te stel.

Wat raadslede nie besef nie is dat, of jy geweet het of vanuit jou posisie as raadslid moes geweet het van hierdie kriminele dade en jy niks daaraan gedoen het nie, daar ook teen jou opgetree kan word en die verlore gelde van jou verhaal kan word.

IRASA se regspligtigheid teenoor die publiek is van so ‘n aard dat alle moontlike sake, insluitende die teen amptenare, huidige en voormalige raadslede as ook diensverskaffers, aan so ‘n staatsorgaan voorgelê sal word.

IRASA is nie in die raad om vriende te maak en so stemme te soek nie. IRASA is daar om die belange van die belasting en dienstebetalende publiek te probeer beskerm ongeag die teestand van die DA of enige ander raadslede of diensverskaffers. Indien nodig sal IRASA die stroping van die munisipale reserwes op dié bedrieglike manier tot in die kantoor van die Staatspresident voer,vir die eenvoudige rede - korrupsie het ons land tot op die  afgrond gedryf en plaaslike politici het in hul plig teenoor die publiek, klaaglik misluk en daarom sal hulle, sonder uitsondering, aan so ‘n ondersoek, blootgestel word.

UA-34805051-1 UA-34805051-1