Die voordele van eierwit

Posted in Latest News

Klerksdorp Midweek, Potchefstroom - Aardklop begin oor drie weke!

Aardklop en Klerksdorp Midweek gee kaartjies weg na Die voordele van Eierwit met Marion Holm en Margit Meyer Rödenbeck.

Kyk… as daar nou één dag is wat Ans le Roux en Elna Basson nie tyd het om in ’n hysbak vas te sit nie, dan is dit vandag. Daar is ’n duisend dinge… Mans en kinders, specials by Checkers, vraestelle om te merk, huise om te verkoop, Ans se obsessie met eierwit (verlede maand was dit Borrie), wat om vanaand gaar te maak (Dieter is mos nou ’n Vegan) en pa se woonstel.

Susters wat baie praat, praat die opper-vlak so toe dat dit wat regtig pla selde oor gepraat word. Die Voordele van Eierwit - is die gejaagde lewe waaraan ons almal so gewoond is, maar wat as alles vir ‘n oomblik stop. Wat gebeur dan?

Marion en Margit was laas saam te sien in ‘n “two hander” in die produksie Jong Dames Dinamiet van Hennie van Greunen in 2003. Na jare se dreig om weer ‘n produksie saam aan te pak, is dit nou sulke tyd.

Wat sê bekendes wat die vertoning by die KKNK bygewoon het? Hannes van wyk (akteur en Kwêla aanbieder): “Twee uitsonderlike aktrises wat jou laat lag en huil… eerlike spel en ‘n fyn afgeronde produksie. Beslis ‘n hoogtepunt by KKNK.”

Alexa Strachan, Aardklop-feesdirekteur: “Margit en Marion. Baie geluk met ’n professionele, deurdagte en heerlike produksie!  Julle skep karakters wat ons herken, wat ’n storie vertel waarmee talle mense kan identifiseer. Saam met die reuse gehoor het ek my gate uit geniet.  Een gehoorlid langs my het haar so ingeleef dat sy sommer vir my ook ’n snesie aangebied het - wat meestal vir lag, maar soms vir huil nodig was. Ek gaan egter twee keer dink voordat ek saam met een van julle in ’n hysbak klim.”

By Aardklop is die vertoning in die Totiussaal te sien op Dinsdag 24 September om 09:30, 25 September om 17:00, 26 September om 09:30, 27 September om 20:00 en 28 September om 12:00. Kaartjies kos R150 elk en is beskikbaar by Ticketpro.co.za.

Twee dubbelkaartjies vir die Dinsdag 24 September om 9:30-vertoning en twee dubbelkaartjies vir die Vrydag 27 September om 20:00-vertoning is op die spel. Stuur ‘n e-pos met die antwoord op ‘n maklike vraag en jou kontakbesonderhede na
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

Die kompetisie sluit op Maandag 9 September.

Die wenners sal deur middel van ‘n gelukstrekking bepaal word.

Die vraag: Watter twee bekende SA-akrises is te sien in Die voordele van eierwit?

UA-34820896-1