Ware liefdesverhaal vir Valentynsdag

Posted in Latest News

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Vergeet my nie, ‘n nuwe romantiese komedie open op Vrydag 14 Februarie in rolprent-teaters, en dit is ‘n ware liefdesverhaal wat net anderkant die Bult in Potchefstroom begin het.

Na die aaklige verbrokkeling van haar verhouding, pak ‘n gekultiveerde student in Potchefstroom haar tasse vir die opwinding en liggies van Londen.

Sy raak verlief op ‘n aantreklike, kaalvoet Namibiër, maar laat haar verse die beste van haar kry.

As hy jare later aan haar deur klop met beloftes van horisonne en ‘n lewe saam, kan sy veilig speel en die aanloklike stadsligte kies, of sy kan alles waag vir sonsondergange, sandduine en kaalvoetliefde.

Margeurite van Eden is te sien as Mardaleen en Sean-Marco Vorster as Hugo.

Die ware Mardaleen was 22 jaar oud en het Kommunikasiekunde studeer toe sy Hugo (toe 24) in Potchefstroom opmerk.

Sy en ’n vriendin het by ’n groep pêlle in die studentehuis langs syne gekuier. Die dag toe sy hom raaksien, was hy kaalbolyf in ’n rugbybroek en kon sy nie anders as om na sy blokkiesmaag te loer nie. Min het sy geweet dié BCom student het reeds uitgevra oor die meisie wat so by die ouens oorkant die draad kuier.

“Nee, pêl, vergeet daarvan. Sy is nie jou tipe nie,” het een buurman gesê.

Toe hul paaie die volgende jaar in Londen kruis, het hulle ’n skakelhuis saam met ’n groot groep jong Suid-Afrikaners gedeel.
Hugo was gewild, en Mardaleen het in ’n stadium gedink hy is ’n “regte pierewaaier”. Toe raak hulle verlief.

In die vreemde het hulle ’n sprokiesromanse vol avonture - maar ook hartseer en drama - beleef. In dié tyd het hulle besef sy soek ’n lewe in die stad, en die plaas roep hom; daarom het hulle met hul vertrek uit Londen nie eens telefoonnommers uitgeruil nie.

Maar natuurlik was dit nie die einde van die storie nie…

“Om met mekaar getroud te wees is steeds een groot avontuur,” vertel die twee vanuit Namibië.

Vandag is daar nie meer enige grense tussen Mardaleen en Hugo nie.

UA-34820896-1