Gebarste waterpyp laat krane droog

Posted in Latest News

Klerksdorp Midweek, Stilfontein - Stilfonteiners was verlede week woedend omdat ‘n deel van die dorp sonder water gelaat is, nadat ‘n waterpyp gebars het.

Wat nog verder petrol op die vuur was, was dat dit so lank geneem het om die waterpyp te herstel nadat munisipale werkers vir ‘n ruk gestaak het. Raadslid Fanie Kloppers van die VF+ het gesê die werkers is in ‘n dispuut met hul werkgewer oor werk gedurende die inperkingstyd.

Michal Groenewald, parlementslid en leier van die Vryheidsfront Plus in Noordwes, is op Donderdagoggend 7 Mei gekiek in die poel water op die hoek van Stilfontein- en Gamtoosweg.

Hy het gesê hy wag vir die werkers om op te daag.

“Die lek is 28 uur gelede gerapporteer, en ons hoop hulle sal wel een of ander tyd opdaag. Dit is koud in die water,’’ het hy gesê.

Kloppers het gesê munisipale werkers is ongelukkig omdat van hulle moet werk tydens inperking terwyl ander by die huis sit en steeds betaal word. “So dis ‘tools down’ vir hulle. Hulle eis nou dubbel geld omdat hulle moet werk. Ons hoop maar die probleem word vandag opgelos. Intussen wag ons maar.’’

Volgens Groenewald sal die Matlosana Munisipaliteit dit dalk moet oorweeg om eerder van sy werkmag af te lê aangesien die finansiële krisis by die munisipaliteit veel groter gaan wees as die tyd van inperking verby is.

‘n Inwoner wat haarself net as Anne geïdentifiseer het, het aan Klerksdorp Midweek gesê sy betaal haar dienste-rekening elke maand en verwag daarom ‘n diens. “Ons het die gebarste pyp al gisteroggend 10:00 aangemeld en dis nou al ‘n dag later en ons het nog steeds nie water nie. Ek moet wasgoed was en my kinders moet bad, dit is onaanvaarbaar,’’ het sy gesê.

Vroeër in die week was ‘n deel van Orkney ook vir bykans 24 uur sonder water nadat ‘n waterpyp gebars het.