Wegneemetes om matrieks te groet

Posted in Latest News

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - HTS Klerksdorp se matrieks kan dalk nie matriekafskeid hou vanjaar nie, maar die skool het ‘n plan gemaak om hiervoor te probeer vergoed.

Hulle het ‘n ander tipe afskeid gereel. Dié afskeid gaan helderoordag by die skool plaasvind, matrieks gaan nie in ontwerpersklere opdaag nie en hulle gaan nie in sportmotors of klassieke motors ry nie.

Die skool bied hul “wegneemete’ afskeid op Woensdag 25 Junie aan en volgens die hoof, Stephen Pitts, is die matrieks baie opgewonde.

Die matrieks kon verlede week hul gunsteling ete van ‘n restaurant bestel en dit word om 12:00 afgelewer. Volgens Pitts is dit ‘n slegte jaar om in gr 12 te wees want die leerlinge mis uit op alles, ook dan die matriekafskeid.

“Die matrieks word bederf met ‘n ordentlike wegneemete, wat hulle van ‘n spyskaart af kon bestel. So het hulle darem ook ‘n spesiale dag en net so belangrik, ons ondersteun eetplekke wat lank toe was.”

Volgens hom is dit ‘n stewige inspuiting van R30 000 in die plaaslike kosbedryf. Die Spur was die gewildste met meer as 100 bestellings by die restaurant.
‘n Tradisionele afskeid kos sowat R80 000.

“Dié afskeid kos slegs R30 000 wat die ouers reeds van gr 8 af vooruit betaal het,” sê Pitts.

UA-34820896-1