Wenbruid met skoolliefde voor die kansel

Posted in Latest News

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp – Samantha en Ruvan Vilonel se wintertroue in Julie 2019 was klein en intiem soos hulle dit wou hê. Hulle het Klerksdorp Rekord se Bruid van die Jaar-kompetisie gewen.

Hulle het ‘n oggendtroue gehad en is in die PPK Stilfontein in die huwelik bevestig. Daarna het hul geliefdes in die tuin by die huis gekuier en die paartjie se eerste dans was kaalvoet op die wintergrasperk. Hul hondekinders was deel van die troue en Samantha sê sy sou niks aan hul groot dag wou verander nie.

“Ek en my man het ons eie troue beplan. Ons hou van simpel goedjies en wou nie ‘n groot troue gehad het nie. Ons wou eerder die dag met mekaar spandeer,’’ sê sy.

Die onthou-oomblik van hul troue was toe Samantha totaal en al onbewus haar man se troupand aan die verkeerde hand sit tot die pastoor hul daarop wys.

“Ons het net gelag en dit het regtig die spanning weggevat en ons baie gemaklik gemaak.’’

Sy wou nog altyd in die winter trou “wanneer die son vroeg sak en die bome geen blare het nie’’. “Dit maak ook natuurlik die mooiste foto’s en ek was baie tevrede met ons fotograaf, Carla Landsberg van Unique Designs and Photography.’’

Die paartjie se liefdesverhaal het eintlik al op Laerskool begin. Sy was 12 en hy 15 toe hulle op hul eerste afsrpaak na die flieks toe is. “Min het ons toe geweet ons gaan eendag trou,’’ lag sy.

“Ons het deur die skooljare altyd kontak gehou en baie saam gekuier. Ons was beste vriende. In 2018 het ons ernstig verlief geraak en daardie selfde jaar verloof geraak.’’

Samantha se raad aan bruide is om hulle nie te laat voorskryf deur ander nie, maar te kies wat jy en jou man op jul troudag wil hê. “Dit is tog julle spesiale dag.’’

Samantha studier tans deeltyds om haar LLB-regsgraad te voltooi en Ruvan is besig om sy elektriese kwalifikasie te verwerf. Hulle hoop ook op ‘n pienkvoet of twee wanneer hulle studies eendag afgehandel is.

Die paartjie beoog om die prysgeld te spaar vir ‘n latere vakansie na Turkye waar Ruvan se ouers woon.

UA-34820896-1