NWU een van bestes

Posted in Latest News

Klerksdorp Midweek, Potchefstroom - Die jongste gradering op die ranglys vir wêrelduniversiteite deur Times Higher Education (THE) is nog ’n veertjie in die hoed vir die Noordwes-Universiteit (NWU).

Die NWU toon hierdie jaar volgehoue goeie prestasie op die ranglyste van verskillende internasionale graderingagentskappe. Hierdie gradering plaas die universiteit onder die topses (6) universiteite in Suid-Afrika.

Die THE het sy ranglys vir 2021 bekend gemaak. Dit is slegs die tweede jaar dat die NWU aan die THE World University Rankings deelneem. Die NWU word wêreldwyd tussen 501 en 600 geplaas uit meer as 1 500 universiteite uit 93 lande en streke wat vir die 2021-graderings geëvalueer is.

Die THE University Rankings word tot op hede as die grootste en mees diverse universiteitsgraderings beskou. Hulle kyk na navorsingsintensiewe universiteite regoor al hulle kernmissies, wat onderrig, navorsing, kennisoordrag en internasionale profiel insluit.
Volgens die THE gebruik hulle 13 noukeurig-gekalibreerde prestasieaanwysers om die omvattendste en mees gebalanseerde vergelykings te verskaf wat deur studente, akademici, universiteitsleiers, die bedryf en regerings vertrou word.

Die THE groepeer prestasieaanwysers in vyf areas: onderrig (die leeromgewing); navorsing (volume, inkomste en reputasie); aanha-lings (navorsingsinvloed); internasionale profiel (personeel, studente en navorsing); en bedryfsinkomste (kennisoordrag).

Net soos verlede jaar het die NWU sy topposisie op die gebied van aanhalings behaal. Die universiteit word op die gebied van aanhalings onder die topvyf (5) universiteite in Suid-Afrika gegradeer.  Die THE verduidelik dat die aanhalings aantoon hoeveel elke universiteit tot die totaal van menslike kennis bydra. Dit is daarom ’n aanduiding dat die waarde van die NWU se navorsing deur die wêreldwye vakkundige gemeenskap erken word.

Vir meer inligting oor die 2021 World University Rankings, besoek https://www.timeshighereducation.com/world-university-rankings/ 2021/world-ranking#!/page/0/length/25/sort_by/rank/sort_order/asc/cols/stats.

Hierdie aankondiging is nog ’n bousteen in die NWU se uitmuntende graderings hierdie jaar. Die THE het die NWU ook onder die topvyf (5) geplaas op sy ranglys vir universiteite in ontluikende ekonomieë wat in Februarie vrygestel is. Die NWU is algeheel in posisie 109 uit 533 universiteite uit 47 lande geplaas. Benewens die NWU is daar ook nege ander Suid-Afrikaanse universiteite op die ranglys.

Dit was ook die eerste keer dat die NWU op die THE Young University Rankings se ranglys verskyn wat in Junie aangekondig is.

Die NWU het deurlopend hoër op in die ranglyste beweeg nadat goeie grondslae in vorige jare gelê is en goeie prestasies ook in 2018 en in 2019 gevier is.

Benewens die THE se graderings, is die NWU ook in onderskeidelik Junie en Julie 2020 deur die Centre for World University Rankings (CWUR) en die Academic Ranking of World Universities gunstig gegradeer.

Prof Dan Kgwadi, visekanselier en hoof van die NWU, sê dat die jongste goeie vertoning in internasionale graderings die NWU se verbintenis herbevestig om gehalte-onderwys te verskaf en om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te wees wat vir betrokke wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en ’n sorgsaamheidsetiek bekend is.

“Hoewel die ranglyste nie boaan ons prioriteitslys is nie, verwelkom en vier ons ons die erkenning van die goeie werk wat ons personeel en studente doen,. Ek bedank al ons personeel en studente vir hulle bydrae om te verseker dat die NWU aan sy doel beantwoord om uit te styg ten opsigte van innoverende onderrig-leer en baanbrekernavorsing wat tot voordeel van die samelewing is.”

UA-34820896-1