Wessie-akteur skitter in tienertoneel

Posted in Latest News

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - ‘n Leerling van Hoërskool Wesvalia bevind homself in uitgesoekte geselskap nadat hy as een van die finaliste in die ATKV-Tienertoneelkompetisie aangewys is.

Toneelspelers van hoërskole regoor die land het aan die kompetisie deelgeneem al het die Covid-19 pandemie amper ‘n stokkie daarvoor gesteek.

Henrietta Gryffenberg, bekende aktrise, regisseur en vervaardiger, het gehelp om die jaarlikse ATKV-Tienertoneel blitsvinnig ’n nuwe baadjie aan te trek weens die pandemie. “Covid-19 het gedreig om Tienertoneel ’n nekslag toe te dien. Die gemak waarmee die deelnemers die nuwe medium (om kort monoloë te skryf en dan te verfilm) omarm het, het nie net uitstekende toneelwerk opgelewer nie, dit het ook bewys hoe vindingryk jong mense met verandering kan omgaan,” het sy gesê.

Merwe van Gent het met sy monoloog “Ingeperk’’, geskryf deur Ilne Fourie, ‘n plek in die top 12 gehaal. Die inskrywings was van ’n hoogstaande gehalte en volgens JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-Tienertoneel, het 223 tieners vanjaar ingeskryf.

“Die Top 20 is in September aangewys en het die geleentheid gehad om aan hul werk te skaaf na gelang van terugvoering deur die ATKV-Tienertoneelmentors. Hierdie aangepaste inskrywings is deur die paneel tydens die semi-finale ronde beoordeel en die SUPER 12 gaan skitter met hul laaste aangepaste weergawe van hul nuutgeskrewe monoloog tydens die finaal op 14 November,” het JJ gesê.

Die finaal is gratis en gaan première op die ATKV se Facebookblad en YouTube-kanaal.

Die 12 inskrywings is op die ATKV se webblad gelaai by www.atkv.org.za

Jy kan ook stem: Vir die eerste keer in die geskiedenis van ATKV-Tienertoneel kan jy vir jou gunsteling- jong akteur/aktrise stem. Die SUPER 12 se semi-finaalopname is op die ATKV se webwerf gelaai en kan voor gestem word deur op die gepaste skakel te klik. Wanneer jy stem, sal jy outomaties in aanmerking kom vir ’n gelukstrekking. Die wenner sal R1 000 in kontant ontvang. Die kykerskeuse word ook tydens die finaal op 14 November bekendgemaak.

UA-34820896-1