Maak harte oop vir mediese personeel

Posted in Latest News

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Mediese personeel is die eerste linie in die geveg teen Covid-19. Ignaz Streicher, omroeper en gemeenskapswerker, het dié mense se noodkrete op sosiale media gesien en dit het hom erg geraak.

“Dit was hierdie boodskappe wat my laat besef het iets moet gedoen word om vir die mense wat voor vat in hierdie aardige tyd te sê, byt net vas. Ons vriende, mammas, tannies en ma of pa is moeg. Hulle voel magteloos van hulle wil opgee, die groot vraag is, besef ons dit?”

Hy vertel hy het ure daardie nag rondgerol en gewonder hoe maak hy ‘n verskil om hierdie mense wat alleen binne die hospitale veg te verseker ons waardeer dit. “Dit was in daardie selfde oggendure wat die woorde by my opgekom het, julle is binne en ons bid buite. Ek het besluit om die worsbroodjie-projek te loods en so vir die oorwerkte personeel te sê ons weet, ons verstaan. My uitdaging was nie waar kom alles vandaan nie maar eerder wie kry en wie nie?

“Ek het toe besluit om die sprong in geloof te neem en aan te kondig ons gee vir elke persoon wat in die hospitaal werk, maak nie saak waar in die hospitaal nie, ons vergeet van die wat vloere skoonmaak, kos moet maak, die admin moet doen, so hulle is ook op hierdie lys van omgee vir my.

“Ek het begin bel en vriende, familie en kennise het dadelik my hande begin sterk maak. Ons het nou om en by 3 500 mense wat die werk van engele in Klerksdorp doen so ons gaan bont staan.”

Overvaal Stereo se personeellede sal Saterdag 30 Januarie vroegdag wegspring met die braai van wors vir bykans 3 500 gesondheidswerkers in Klerksdorp.

Die stasie sal poog om elke werker in die hospitale te bederf met ten minste ‘n worsbroodjie en koeldrank met ‘n boodskap van hoop daarby.

“Ek gee my tyd met liefde, al is dit net een Saterdag, sodat hulle wat daar binne werk weet ons weet hulle gee al hulle tyd. Hulle veg vir mense wat ons ken, mense vir wie ons lief is, mense wat hulle nie eers ken nie.”

Instansies, individue, besighede en organisasies wat Overvaal Stereo se hande wil neem met hierdie groot projek word gevra om deel van hierdie uitreik te word.

Indien jy betrokke wil raak, skakel vir Angelique Labuschagne by 056 343 2076.

UA-34820896-1